Volhoubare houthuismark moontlik in SA

(Foto: Verskaf)

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat Suid-Afrika genoegsame houtbronne vir ʼn volhoubare houthuis-boubedryf het.

“Ons studie het getoon dat as die houtbronne wat as spaanders uitgevoer word, tesame met die aanplanting van bome in gebiede wat vir bebossing geoormerk is, gebruik word, sal dit moontlik wees om ʼn toekomstige houthuis-boubedryf aan die gang te hou,” sê dr. Phillip Crafford, professor aan die US se departement bos- en houtkunde.

Crafford en sy kollega, dr. Brand Wessels, het die land se houtbronne en die moontlike uitwerking van ʼn groeiende houthuis-boubedryf op aardverwarming ondersoek.

“Weens die beperkte bosdekking in Suid-Afrika is daar dikwels ʼn siening dat ʼn aansienlike groei in die markaandeel van houtgeboue nie moontlik is nie. Ons studie toon egter dat hierdie siening nie korrek is nie,” sê Crafford.

“Indien ons slegs die houtspaanders wat tans beskikbaar is gebruik, kan 39 646 houtwonings (30 523 huise en 9 123 woonstelle) jaarliks gebou word. Met die bebossingshulpbronne sal 55 314 wonings (42 586 huise en 12 728 woonstelle) jaarliks gebou kan word. Dit is 1 203 meer as die gemiddelde nuwe geboue die afgelope 17 jaar.”

Crafford sê dat as die hulpbronpotensiaal van houtspaanders en bebossing in ag geneem word, kan nagenoeg 95 000 houthuise (172% van die huidige aanbod) jaarliks gebou word.

Indien invoere en huidige pulp-, bord‑ en ander houtbronne uitgesluit word, kan daar in die toekoms ongeveer 6,23 miljoen kubieke meter houtbronne beskikbaar wees vir houthuiskomponente. Hierdie hoeveelheid houtbronne sal 6 019 Boeing 747’s of 55 377 dubbeldekkerbusse kan vul.

‘n Infografika oor houtwonings. (Foto: Verskaf)

“Daar is duidelik ʼn hulpbronpotensiaal vir ʼn groter houtgebaseerde boubedryf in Suid-Afrika.”

Ondanks hierdie potensiaal, word slegs 1% van die nuwe huise in die land met hout gebou, in vergelyking met die VSA, Kanada en Australië waar meer as 90% van die huise met hout gebou is.

Volgens Crafford word Suid-Afrika se produksie van houtstompe vir alledaagse gebruik hoofsaaklik vir pulp en bordprodukte (51%), gesaagde hout (24%) en spaanderuitvoere na Asië gebruik.

“Ons het die afgelope tien jaar gemiddeld 3,5 miljoen houtspaanders per jaar uitgevoer. Houtspaanders sal egter die ideale bron wees vir die bou van houthuise.”

Verskeie studies het getoon dat hout die beter boumateriaal vir die omgewing is in vergelyking met alternatiewe boumateriale soos staal en beton. Hout het veral goed presteer ten opsigte van die vrystelling van kweekhuisgasse en hernieubaarheid.

“Ons ontleding toon dat indien 20% van alle nuwe huise met hout gebou sou word, die hoeveelheid fossielbrandstof wat vir produksie benodig word en die aardverwarmingspotensiaal van die residensiële boubedryf met 4,9% sal verminder. Indien alle nuwe konstruksies houtgebaseerd sou wees, kan dit tot 30% verminder,” sê Crafford.

“Dit is ʼn aansienlike afname gegewe dat die energie wat in die bou en gebruik van geboue gebruik word, na raming vir sowat 27% van die land se mensgemaakte koolsuurgasvrystellings verantwoordelik is.

“Dus kan houtboumateriale help om die omgewingsvoetspoor van ons residensiële geboue aansienlik te verminder,” sê hy.

Daar is egter steeds ʼn behoefte aan verdere navorsing wat ander uitwerkings soos die skepping van bruto binnelandse produk (BBP), werkskepping en maatskaplike en ekonomiese vergelykings ten opsigte van ʼn groeiende houtboubedryf insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

En hout brand net soveel makliker en vinniger. In ons klimaat nie baie prakties nie.

Lizelle ·

Altyd negatiewe kommentaar. Is daar ‘n beter alternatief of voostel wat gedoen kan word aangaande behuising?

PieterP ·

Ek kan jou houthuis en grasdak behandel reen brand. Grasdak 10 minute met 800°C vlam en geen flamme wat versprei nie.

Karlahari ·

Wat die navorsers nie uitwys nie is die kriminele element in die land.
Houthuise is eenvoudig nie veilig in die republiek van korrupsie moord en doodslag nie.

Hans ·

Ek woon al byna 30 jaar in n houthuis wat 60 jaar terug gebou was tydens n behuising tekort. Hier staan ongeveer 150 huise van daardie era, en net een het in al die jare afgebrand as gevolg van agterlosigheid. Daar het nog nie een huis houtvrot of termiete gekry nie, want die hout was reg behandel, en staan na al die jare nog net so stewig. Onthou net ons praat hier nie van n wendy hut of n stoor kamer nie, maar n regte houthuis wat volgens streng boureels gebou was. Net soos met lapas, word die hout ook behandel teen brandgevaar

Dries ·

Ek sal self nie omgee vir ‘n houthuis nie. Maar ons land is tog te lief daarvoor om te ‘brand’, my senuwees sal dit nie hou nie.

Cornelius ·

Nee dankie. Nie in Sous Afrikaa nie. Net een petrol bom en daar gaan die houthuis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.