[Video] Volledige registrasie amptelik aan Akademia toegeken

akademia-gradeplegtigheid-2017-04-07

Van die studente wat in April van Akadmia se eerste grade ontvang het. Foto: Jhua-nine Wyrley-Brich/Forumnuus.co.za.

Akademia het pas bekendgemaak dat dié Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit nou volledig as hoëronderwysinstansie deur die departement van hoër onderwys en opleiding (DHET) geregistreer is.

Die instansie het op 30 Mei die goeie nuus van die DHET ontvang dat dit nou volledig geregistreer is ná ʼn omvattende gehaltebeheerproses wat ses jaar lank geduur het. Akademia het in dié tydperk alle voorwaardes van die departement nagekom en aan alle vereistes voldoen.

By Akademia se oprigting het die DHET voorwaardelike registrasie as hoëronderwys­instansie aan Akademia toegeken. Dr. Paul Steyn, Akademia se provoos, verduidelik dat voorwaardelike registrasie bloot beteken het dat Akademia eers aan die DHET moes bewys lewer dat die instansie volhoubare programme van hoë akademiese gehalte kan aanbied. Ten minste een kohort van studente in die langste kwalifikasie moes hul studies suksesvol voltooi, sonder enige onderbreking in dienslewering.

“Akademia dien jaarliks ʼn jaarverslag in, wat ʼn vorm van ouditering van ons finansiële status en dienslewering aan studente is, asook ons volhoubaarheid met betrekking tot regs­vereistes soos deur die Wet op Hoër Onderwys gestel aandui. Volledige registrasie impliseer dus geen statusverandering nie – ons moet steeds voortgaan om aan al die jaarlikse wetlike vereistes te voldoen – dit stel studente en ondersteuners bloot gerus dat Akademia van meet af ʼn hoë standaard handhaaf,” het Steyn gesê.

Piet le Roux, akademiese hoof by Akademia Foto: Maroela Media

Piet le Roux, akademiese hoof, sê Akademia beskou die finale registrasie by die departement as ’n belangrike bousteen in sy ontwikkelingsplanne.

“Die finale registrasie is vir Akademia ’n belangrike mylpaal op sy ontwikkelingspad. Dit baan die weg na verdere, belangrike vorme van erkenning waaraan reeds hard gewerk word, insluitende internasionale uitruiling en samewerking, sowel as professionele en bedryfsonderskrywings van kwalifikasies. In ’n globale, mededingende ekonomie en onderwysomgewing is sulke bykomende erkennings – en die vertroue van sy ondersteuningsgemeenskap – onmisbaar vir Akademia om homself en sy alumni te onderskei,” het Le Roux gesê.

Volgens Le Roux beskik Akademia reeds oor 11 studiesentrums wat geleë is in Bloemfontein, Boksburg, Centurion, George, Krugersdorp, Paarl, in die Moot en Lynnwood in Pretoria, Somerset-wes, Tygervallei en Vanderbijlpark. “Ons beplan om binne die volgende jaar minstens nog twee sentrums by te voeg waarvan een in Windhoek, Namibië.

“Ons wil die Afrikaanse publiek bedank vir hulle ondersteuning en in besonder dankie sê vir die lede van Solidariteit wat met hulle bydraes gehelp het om Akademia tot stand te bring,” het hy bygevoeg.

Daar is tans meer as 730 studente by Akademia ingeskryf en aansoeke vir studies in 2018 kan reeds gedoen word. Besoek Akademia se webwerf en Akademia se Facebook-blad vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Marita ·

Die registrasie is wonderlike nuus. Ek studeer tans by Akademia, dit is wonderlik om in my eie moedertaal te kan studeer.

JC ·

Blye tyding!!!
#LiefAfrikaans:)
Dankie aan die Solidariteit Beweging, ek gee nog ‘n donasie (van hopelik vele nog) aan die einde v/d maand:)

MCH ·

Laat ons asb ook geoktrooieerde rekenmeesters hier kan oplei, BRek. en B.Rek honneurs.

humor ·

Groot dankie aan al die belanghebbendes. Ons hier in Namibie sien met afwagting uit om ook in Windhoek en selfs in die kleinste dorpies en op plase aanlyn te kan studeer. Daar is n toekoms vir ons kinders en kleinkinders. DANKIE.!!!!!

De Villiers ·

Geluk, en dankie hiervoor, Akademia. ‘n Tree nader aan selfstandigheid en onafhanklikheid.

Leonard van der Dussen ·

“Hoera, ons het staatsregistrasie!”. Hoe verteenwoordig staatsgebondenheid van ‘n akademiese instelling ” ‘n tree nader aan selfstandigheid en onafhanklikheid”?

Fanie ·

Leonard, is jou kind se skool nie ook by die staat registreer nie? En jou werk of besigheid? Betaal jy nie aan die staat belasting nie? Akademia moet registreer wees, anders is hul onwettig. Maar ‘n geregistreerde privaatuniversiteit het baie meer selfstandigheid as ‘n openbare universiteit, en die amptelike registrasie is ‘n groot stap vorentoe twv groter onafhanklikheid van die staat.

Deon ·

Akademia, ons is saam met julle bly oor dié mylpaal in julle bestaan!! Dit laat my terugdink aan jare gelede toe ons die eerste CVO skool in Bloemfontein van die grond af moes kry. Ons is ook deur die onderwys departement geïnspekteer en moes ook aan al hulle vereistes voldoen alvorens ons enige kinders mag inneem. Dit sal egter baie interessant wees om van Akademia te verneem of daar enige CVO kinders, wat matriek op die CVO skole geskryf het, by Akademia geregistreer is en al enige kwalifikasie behaal het. Ek wil ook graag voorstel dat Akademia elke jaar die CVO skole besoek en die moontlikhede van Akademia aan hulle voorhou. Ons gebed is dat Akademia `n vooruitstrewende Afrikaanse Universiteit vir al die Afrikaanse kinders sal wees. Die HERE seën die instansie!!

JC ·

Ek stem saam Deon, God seen Solidariteit en Akademia en ons vele CVO skole in ons pragtige Vaderland!!

koos ·

Waar gaan al Akademia se gegradueerdes werk kry? Regstellende aksie en BEE is harde werklikhede. Almal kan nie oorsee gaan werk nie en almal kan nie eie besighede begin nie. Ek het my 2 goeie universiteitsgrade AFGEHAAL van my cv af om by regstellende aksie verby te kom, so so moes basies lieg oor my kwalifikasies om darem weer werk te kry.

André Badenhorst ·

Baie geluk met die uitstekende nie. Nou begin die regte werk! Ek wil baie graag verder hoor van die “interessante planne” wat genoem is in die video.

Disselboom ·

Wat bedoel mnr Piet le Roux met “diepgaande opvoeding” wat Akademia lewer?

JC ·

Vermoedelik Opvoeding wat nie alla die Orwelliaanse distopiese 1984 visie’ polities korrek en geskiedenis ontkennend, verdraaiend of veranderend is nie; of ‘n onderwys model; wat NIE die verfoeilike katastrofe wat Sosiale Marxisme is nie; propageer; Disselboom :)
NS: Wat sou van die wereld geword het sonder die wonderlike Donald John Trump; in watter siek en “selfmoord induserende ” wereld sou ons nie dan huidiglik gelewe het nie?

Disselboom ·

Die distopie en ismes is so bietjie bokant Disselboom se vuurmaakplek. Leonard se vraag sit mens tog bietjie aan die dink oor die onafhanklikheid, en of die programme wat aangebied word, onbeïnvloed vry is van die sosialistiese staat se vereistes? Wonder so bietjie of die ding dat alle opleiding aan registrasie by die staat onderhewig moet wees, in ander lande ook so is? Maar goed, Akademia is Afrikaans, dus moet dit goed wees, of hoe?

ponie de wet ·

Ek is 64 jaar oud met baie ondervinding as staatsadvokaat, gekwalifiseerde prokureur en praktiserende advokaat.
Ek sou graag help met die opleiding van behoorlik geskoolde en bekwame regsgeleerdes te Bloemfontein as daar n behoefte besttan. A.g.v. die jarelange praktyks ondervinding waaroor ek beskik ken ek die regslei in Bloemfontein goed en sal ek maklik uitstekende dosente deeltyds of voltyds betrokke kry om uitnemende regsgeleerdes op te lei,
groete

jaco ·

jy het die “verkeerde” ras vir die werk. Akademia sal VINNIG agterkom dat hulle personeelsamestelling regstellende aksie sal MOET toepas. Met ‘n hoofkantoor in Gauteng, wonder ek hoe hulle met die provinsiale rassesamestelling steeds genoeg afrikaanssprekende personeel sal kry. Kortom, regstellende aksie en BEE gaan Akademia vinnig kelder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.