Vollengte skandeerders voortaan by probleemtronke

Argieffoto

Vollengte skandeerders gaan teen die einde van die maand by sewe van die land se probleemtronke geïnstalleer word, in ʼn poging om smokkelary stop te sit.

Die minister van korrektiewe dienste (DKD), Ronald Lamola, het dié aankondiging Woensdag gedoen en weereens sy kommer uitgespreek oor verskeie video’s wat wys hoe gevangenes hulle agter tralies met onwettighede besig hou.

“Ons gaan met vakbonde en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vergader oor ʼn beleid van geen genade nie wat betref smokkelary in ons tronke,” het Lamola gesê.

“Amptenare wat betrokke is by smokkelary, of enige ander oortreding, gaan summier afgedank word en as ʼn lid van die publiek met smokkelitems betrap word, moet hulle swaar gestraf word,” het Lamola gesê.

Lamola het gesê senior tronkamptenare is voor stok gekry of is geskors, nadat verskeie video’s, waarin gesien kan word hoe gevangenes dwelms gebruik, asook hoe DKD-amptenare die gevangenes bewapen en aanmoedig om te baklei, soos ʼn veldbrand versprei het.

Die skandeerders gaan by Durban Westville, St. Albans in Port Elizabeth, Johannesburg, Kgosi Mampuru II in Pretoria, Pollsmoor in Kaapstad, Barberton in Mpumalanga en Groenepunt in die Vrystaat geïnstalleer word.

Die minister sê ondersoeke na die video’s het bevind albei voorvalle het by die Durban Medium B-tronk plaasgevind. In een voorval lyk dit of ʼn veroordeelde moordenaar dwelms snuif, en in die ander video rand gevangenes mekaar aan met knuppels wat bewaarders aan hulle verskaf het.

“Uit die bewyse wat ingesamel is, is bevind ʼn ondersoek [na die voorvalle] is gedoen en aan die betrokke owerheid vir goedkeuring oorhandig, maar ongelukkig is niks verder gedoen nie,” het Lamola gesê.

Die minister het gesê die drie gevangenes in die video’s is geïdentifiseer. Ruwain Meer dien ʼn lewenslange vonnis vir ʼn dubbele moord uit, Sanele Nyalane dien tronkstraf van 15 jaar uit vir roof met verswarende omstandighede en Langa Gumede dien ʼn vonnis van 15 jaar uit vir roof met verswarende omstandighede.

“Die drie geïdentifiseerde gevangenes is oorgeplaas na die maksimumveiligheidstronk eBongweni in Kokstad. Dit is ʼn verwysingsentrum nie net vir geharde misdadigers nie, maar ook vir gevangenes met groot gedragsuitdagings,” het Lamola gesê.

ʼn Waarnemende gebiedskommissaris is intussen vir die DKD se Durban-bestuursgebied aangestel.

ʼn Nuwe bestuurspan is ook by die St. Albans-tronk aangestel sedert die video’s aan die lig gekom het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Arno Scheepers ·

Die bewaarders gaan doodeenvoudig net die skandeerders afskakel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.