Volstoom vorentoe met plaaslike verkiesing

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het kennis geneem van ʼn hofbevel dat die munisipale verkiesing tussen Oktober en November vanjaar moet plaasvind en sal die naweek vergader om sy planne daaroor te bespreek.

“Die gevolge van die Konstitusionele Hof se beslissing beteken daar word nou van die kommissie verwag om te verseker hy berei voor vir ʼn verkiesing om teen 1 November 2021 gehou te word,” sê die OVK.

Die hof het die OVK ook beveel om teen Maandag ʼn aankondiging oor die verkiesingsprogram te doen.

Daar sal intussen dringend met die politieke partye vergader word oor die pad vorentoe.

Die OVK het die hof genader nadat voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke in ʼn ondersoek tot die gevolgtrekking gekom het dat dit nie moontlik sal wees om ʼn vrye en regverdige verkiesing op 27 Oktober – soos beplan – te hou nie.

Die land se hoogste hof het egter nie saamgestem nie.

Verskeie politieke partye en organisasies het die hofbeslissing ook reeds verwelkom.

Oorwinning vir ‘grondwetlike demokrasie’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

Die VF Plus was een van hulle. Dr. Pieter Groenewald, partyleier, het die uitspraak as ʼn oorwinning vir die grondwetlike demokrasie in die land bestempel.

“Die feit dat die Konstitusionele Hof die proklamasie van die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, oor die verkiesing ook ongeldig verklaar het, plaas geweldige druk op die OVK en politieke partye. Dit beteken dat registrasies, die kiesersrol en kandidaat-nominasies sal heropen wat in die kort tydperk ʼn haas onbegonne taak is.”

Hy sê dit bedreig die integriteit van die kiesersrol en waarsku dat dit ʼn nuwe krisis skep as die spertyd van 1 November nie gehaal kan word nie.

Die party verkwalik ook die OVK en die minister omdat hulle hul deur die “verkeerde raad” laat lei het. Die feit dat die verkiesing reeds afgekondig was en dat die OVK daarna hof toe is, het groot onsekerheid geskep en die betrokke owerheidsinstansies het sodoende groot druk op hulself geplaas, sê Groenewald.

“Dit is wel goed dat kiesers nog ʼn geleentheid gaan kry om te registreer. Die situasie het nogtans baie prosesse wat geldigheid aan ʼn verkiesing verleen, ingewikkeld gemaak. Die VF Plus sal wil sien dat ʼn fisieke registrasienaweek so gou moontlik plaasvind.”

Die party meen dit sal onaanvaarbaar wees as kiesers net elektronies kan registreer aangesien dit ʼn vry en regverdige verkiesing sou ondermyn.

Die amptelike opposisie, wat deurlopend volgehou het hy is gereed vir ʼn verkiesing, het ook die besluit verwelkom en dit nes sy eweknieë by die VF Plus as ʼn oorwinning vir die demokrasie en Grondwet bestempel.

Kandidaat in elke wyk

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: Facebook)

John Steenhuisen, DA-leier, sê Suid-Afrikaners het ʼn reg om hul eie plaaslike regerings te verkies – binne ʼn voorgeskrewe tydperk – en die party is tevrede dat die Konstitusionele Hof hierdie reg gehandhaaf het.

“Sodoende het die hoogste hof in die land mense ook weer die geloof gegee dat hy die laaste ss van ons demokrasie is.”

Steenhuisen sê die OVK het net een werk gehad om te doen – om te verseker ʼn vrye en regverdige verkiesing vind binne ʼn bepaalde tydperk plaas – en gegewe die feit dat sy poging om kiesers hiervan te ontneem verwerp is, is dit dalk tyd vir Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, om die tuig neer te lê.

Hy sê noudat die poging om die Grondwet te omseil en kiesers van hul regte te ontneem afgeweer is, kan die land ʼn kiesersregistrasienaweek, gevolg deur ʼn vrye en regverdige verkiesing, hou.

“Alle partye wat by die reëls gehou het en hul huiswerk gedoen het om voor te berei vir die afgekondigde verkiesingsdatum behoort die besluit te verwelkom.”

Die party is goed op dreef met sy voorbereidings en het vir die eerste keer ʼn kandidaat in elke wyk in die land. Steenhuisen sê die party se lys is ingedien en sy deposito’s betaal. “Ons is gereed. Laat dit gebeur.”

EFF reg om ‘onbevoegdheid, korrupsie’ te pak

Die rooi barette vra lank reeds dat die verkiesing uitgestel word, maar sê hy is nietemin gereed om voort te gaan met sy veldtogte om “die verkiesing te wen en dienste aan mense te lewer”.

“Alle politieke partye het dieselfde tyd gehad om die name van hul kandidate voor 23 Augustus in te dien, op dieselfde platform en teen dieselfde spertyd. Enige poging om daardie proses te heropen sal bevestig dat die OVK sake doen op grond van giere en behoeftes van die regerende party en nie onafhanklik en onpartydig is nie,” lui die EFF se verklaring.

Om die kandidatelys nou weer te heropen sal onregverdig wees teenoor politieke partye wat by die spertye gehou het.

ANC nog stil

Die ANC, wat die afgelope paar weke geskarrel het om sy lys van kandidate agtermekaar te kry, het nog nie kommentaar oor die hofbesluit gelewer nie.

Munisipale dienslewering ‘chaoties’

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Die burgerregtegroep AfriForum het op sy beurt gesê die besluit is ʼn oorwinning vir die beskerming van Suid-Afrikaners se stemreg en kan ook ʼn uitwerking op ander regte binne die Grondwet hê.

“Munisipale dienslewering is in ʼn chaotiese toestand en nou is die geleentheid daar om die samestelling van munisipale rade te verander. Die munisipale raad se primêre funksie is om toesig te hou dat munisipale amptenare grondwetlike regte kan verwerklik,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jaco ·

Almal wat nou so juig oor die konstitusionele hof se uitspraak, moet net onthou: Desember kom ná Oktober. Stem in Oktober, wat die ANC nie wou gehad het nie, en dan dink die ANC weer soos in Desember 2020 ‘n nuwe golf Corona uit, stel vlak 4 lockdown in, sluit alle strande. Dan word almal wat so graag in Oktober wou stem, lekker met ‘n harde lockdown gestraf.

Baardman ·

Die rede vir lockdown sal wees omdat daar te veel hardkoppiges is wat nie wil inent nie. Ek wens hulle maak die strande oop slegs vir dié wat ingeent is

jou gewete ·

kom tog asb oor die media en anc indoktronasie en leuens oor die virus. almal jaag die kudde imuniteit met n entstof wat geen, LW GEEN uimuniteit gee, net die hoop om minder aangetas te word

Duck ·

Stem in Oktober, dan skiet die petrol pryse weer die hoogte in om vir die staats koffers geld te gee.
Nee wat, ek het al die jare DA gestem, maar ons krag en water word met “levy’s” gepeper hier in die Kaap.
En moet tog nie vergeet dat die DA vir ou Zuma’tjie geld wil “donate” nie …..Voertsek!

Chris dupreez ·

Dit is duidelik jy verstaan nie die rede hoekom die DA vir zuma geld wil gee vir n privaat dokter. Seker net die opskrif gelees en jou eie gevogtrekkings gemaak.

tweeling ·

Jy is seker bewus daarvan dat die oorgrote meerderheid munisipaliteite hopeloos te veel vra vir dienste?

DIABLO ·

ANC het maar min tyd om fondse in te samel vir KFC, t-hemde en vals beloftes maak. He-he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.