Vonke gaan spat in parlement hierdie week

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Die vonke gaan behoorlik spat in die parlement hierdie week, maar teen die einde van die week behoort daar veel groter duidelikheid oor verskeie kwessies te wees – veral oor die twee grootste huidige brandpunte, naamlik die grondkwessie en staatskaping.

Môreoggend kom twee kwessies oor staatskaping aan die bod. Eerstens gaan die Valke voor die staande komitee oor openbare rekeninge terugvoer gee oor die ondersoeke en hofsake waarmee hulle besig is.

Een van daardie hofsake is die een oor die Gupta-familie se suiwelplaas by Vrede in die Oos-Vrystaat. Daardie saak kan baie probleme veroorsaak vir die Vrystaatse premier, Ace Magashule, wat tans ook die ANC se sekretaris-generaal is. Dit sal baie interessant wees om te kyk of ANC-LP’s vir Magashule gaan skerm, en of hulle hom vir die wolwe gaan gooi.

Later môreoggend sit die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings hul ondersoek na wanbestuur en staatskaping by Eskom voort. Luidens die komitee se agenda moet die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, en die voormalige SAL-raadsvoorsitter en Zuma-vertroueling, Dudu Myeni, more verskyn en verantwoording doen. Dit sal eweneens ʼn interessante aanduiding van die magspolitiek in die ANC wees om te sien of ANC-LP’s opdrag het om Gigaba en/of Myeni te beskerm tydens die vraesessie.

By dieselfde komiteesitting is die drie Gupta-broers ook veronderstel om te verskyn, maar dit sal verrassend wees as hulle opgespoor kan word. Moontlik sal ʼn mens ʼn aanduiding kry of planne vir hul uitlewering vorder.

Die portefeuljekomitee oor energie kry môreoggend duidelikheid by die elektrisiteitsreguleerder oor verhogings in elektrisiteitspryse.

Môreaand moet die welsynsagentskap Sassa en die Poskantoor aan die staande komitee oor openbare rekeninge terugrapporteer oor vordering met die nuwe uitbetalingstelsel vir maatskaplike toelae – ʼn kwessie wat die land kan laat ontspoor as dit nie korrek hanteer word nie.

Woensdagoggend skuif die staatskapingsondersoeke na die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne. Dit sal die eerste stap in die ondersoek na staatskaping in die mynbedryf wees, en nogmaals sal dit verhelderend wees of die ANC sy lede wat in die spervuur staan, se klaarblyklike misstappe onder die mat gaan probeer vee, of anders gaan poog om skuldiges streng aan die pen te laat ry.

Sassa is Woensdag weer voor die parlement oor die toelaebetalingsdebakel, maar miskien is die belangrikste komiteevergadering Woensdagoggend, wanneer die portefeuljekomitee oor landelike ontwikkeling en grondhervorming terugvoer gaan kry oor hoekom oudpres. Kgalema Motlanthe se paneel hulself teen onteiening sonder vergoeding uitgespreek het. Die vere gaan waai in daardie komitee, dit kan u maar weet, en dit gaan fassinerend en belangrik wees om spesifiek die wisselwerking tussen die ANC en die EFF oor dié kwessie dop te hou – waaroor stem hulle saam en waaroor verskil hulle?

Woensdagmiddag antwoord pres. Cyril Ramaphosa mondelinge vrae in die parlement, en daar is minstens vier van die ses vrae wat interessant en aktueel genoeg is om hom te kan laat bontstaan.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, sal aan Ramaphosa vra wat die volle besonderhede is van die regering se planne oor onteiening sonder vergoeding.

Dan gaan die EFF-leier, Julius Malema, vir Ramaphosa vra wat oudpres. Jacob Zuma se regskoste beloop en wie dit moet betaal.

Zet Luzipo, ANC-LP, gaan vir Ramaphosa vra hoe die regering wil hê die nuwe mynboumanifes moet lyk en prof. Nhlanhlakayise Khubisa, NFP-LP, sal die vraesessie aan Ramaphosa afsluit deur te verneem na sy planne om die geloofwaardigheid van die Nasionale Vervolgingsgesag in ere te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael ·

Ag nee wat dit is net n BAIE GROOT lunch vir hulle ons betaal dit mos . Geen probleme word op gelos nie ons almal weet dit by nou al.

Marietjie Cilliers ·

Ek wonder wanneer gaan hulle kyk hoe die petrol prys nog al die jare bereking is. Ek glo verbaas sal ons wees.

anti verrotting ·

Ramaposa het klaar gesig verloor.
Ek is so bly dat baie van ons deur hom kan sien

Spike ·

Hierdie anc eff mense het nie die intellek om enigiets op te los nie.

Seugnett ·

Ramaphosa het Witbank met n ysterhand regeer en alle korrupsie en diefstal uitgewis in sy tyd as burgermeester daar. As hy naastenby dieselfde mens is as wat hy daar was is daar hoop vir ons land. Hou op mense kritiseer en bid vir hulle vir wysheid, helderheid en krag. Slegs God kan ons nou red en hom wysheid en duidelikheid gee.

Lena Jonk ·

Ek stem 100% saam, bid vir die regte leiding vir Ramaphosa, net ons Almagtige God kan SA red. Bid dat alles voorspoedig en in vrede afgehandel sal word. Die Bybel se as die leier van n land in My glo sal dit voorspoedig gaan in daardie land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.