Vonke spat in debat oor staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa groet vir adjunkpres. David Mabuza tydens die debat oor die staatsrede (Dinsdag 25 Junie 2019) in die parlement in Kaapstad. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

In teenstelling met verlede week se staatsrede het die debat oor die staatsrede Dinsdagoggend die vonke behoorlik laat spat in die Nasionale Vergadering.

Die meeste aksie van die oggend is veroorsaak deur ’n nuwe EFF-LP, Naledi Chirwa, wat na pres. Cyril Ramaphosa as ’n “moordenaar” verwys het as gevolg van die hoë misdaadsyfer. Ná ’n woordewisseling het sy die stelling teruggetrek. Die res van haar toespraak was oor hoe die jeug nie genoegsaam deur die regering gedien word nie.

Die debat is begin deur die ANC-hoofsweep, Pemmy Majodina, wat basies ’n opsomming van Ramaphosa se staatsrede gegee het, met die klem daarop dat koste afgebring moet word en dat parlementariërs hulself beskaafd moet gedra.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het, soos Ramaphosa in die staatsrede, gepraat oor sy drome. Hy het egter aan Ramaphosa uitgewys dat die land in ʼn krisis is, onder meer wat misdaad en werkloosheid betref. Mense moet gelyke geleenthede kry – nie gelyke uitkomste gewaarborg word nie, het hy gesê.

Die debat oor die staatsrede (Dinsdag 25 Junie 2019) in die parlement in Kaapstad. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Maimane het gesê voordat ’n sneltrein gebou word, kan die huidige treine eerder betyds loop, en dat behoorlike rekenaarvaardighede eerder as die uitdeel van rekenaartablette die jeug sal voorberei op die vierde industriële rewolusie.

As prioriteite vir die toekoms het Maimane voorgestel dat staatsbeheerde ondernemings reggeruk word, dat die staat en die private sektor saamwerk om skole te verbeter en dat die nasionale gesondheidsversekering laat vaar word want dit is onbekostigbaar. Hy het ook gesê dat veral arbeidswette buigbaarder gemaak word om indiensneming te verbeter deur onder meer die opsie in te bou dat jong mense kan kies om vir minder as die minimumloon te werk,

Volgens Maimane is ’n kleiner regering nodig, moet eiendomsreg uitgebrei word eerder as wat onteiening sonder vergoeding ʼn werklikheid word, en is veiligheid noodsaaklik.

Die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, het uitgewys dat die kiesers die ANC-manifes onderskryf en die DA-manifes verwerp het. Hy het die klem op goeie basiese dienslewering geplaas.

Die EFF-leier, Julius Malema, het gesê die parlement moet ’n hond wees wat seer byt en het gesê die staatsrede was onsamehangend. Hy het Ramaphosa as ’n neoliberalis uitgekryt wat niks oor grondhervorming gesê het nie.

Malema het die aanstelling van dr. Blade Nzimande as minister van hoër onderwys betreur en gesê verdere swak hantering van die portefeulje sal tot ’n spontane rewolusie lei.

Hy het nogmaals onteiening sonder vergoeding onderskryf en gevra dat Ramaphosa al die skenkers tot sy ANC-leierskapveldtog van 2017 bekend maak, anders sal die EFF sorg dat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas word.

Jackson Mthembu aan die woord tydens die debat oor die staatsrede (Dinsdag 25 Junie 2019) in die parlement in Kaapstad. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Dr. Pieter Groenewald van die VF Plus het gesê drome moet uitgevoer word, en benadruk dat sy party Suid-Afrika wil bou.

Hy het verwys na Ramaphosa se stelling in Stellenbosch in die verkiesingsveldtog dat hy wit mense aan bome wil vasbind om te keer dat hulle emigreer, en gesê dis onnodig – hy moet net die omstandighede verander wat maak dat hulle wil emigreer.

Hiervan is regstellende aksie die belangrikste want dit maak dat wit mense nie kan werk kry nie en dus oorsee moet werk soek, sê Groenewald. Wit jeug word onder meer van werkloosheidsverligtingsplanne uitgesluit.

Groenewald het gesê die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, moet ophou om Afrikaanse skole te ondermyn en eerder daarop fokus om agtergeblewe skole te verbeter.

Voorts het Groenewald gepraat oor plaasmoorde, en gevra waarom ’n kommissie om moskee-aanvalle te ondersoek aangestel is, maar nie een oor plaasmoorde nie.

Hy het Ramaphosa herinner dat wetgewing oor selfbeskikking, soos in die 1996-grondwet belowe, nog nie uitgevaardig is nie, en gesê dit moet nou gedoen word.

Die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, het gesê die Reserwebank se mandaat moet uitgelos en die onderrig van seksvoorligting vir tienjariges moet end kry.

Die debat duur tans voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Die anc regering dink om die land te bestuur is soos n tuck shop gaan kyk na zimbabwe hier gaan dit maar net die selfde jy kan hulle niks leer nie hulle weet alles ons het van die slimste min in die werld hulle kan enige werk doen dit is n grap

Marius ·

Net vf+ wat plaasmoorde aanspreek. Ek sal graag wil cr se antwoord op daai een hoor.

Pieter ·

Hy hoor net wat hy wil hoor hy is bang vir sy broers in die anc

KrokodilBotha ·

Dankie VF+. Die res kan in die riool gaan bly. Begin asseblief met ons eie land.

Jerry ·

Opposisiepartye moet let op Jackson Mthembu se aanspraak dat die kiesers die ANC se manifes onderskryf het en die DA en dus ook alle ander partye se manifeste verwerp het. Dit impliseer dat die ANC vir samewerking vra vir die ANC se manifes. Samewerking moet dus weerhou word totdat die ANC die skade van staatskaping herstel het soos bv om alle onregmatige botallige kader aanstellings by SOE’s, staatsinstellings en munisipaliteite ongedaan te maak!

Markus ·

Die enigste twee wat sin praat is Dr Groenewald en Eerw Meshoe.

Malva ·

Stem saam, enigste waardige kommentaar is die van Mnr Groenewald en Eerw Meshoe

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.