Vonke spat in MRK-ondersoek oor Afrikaans by US

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die afgelope week was ʼn gewemel van getuienis en argumente oor die gebruik van Afrikaans op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) toe die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) getuienis in die saak aangehoor het.

Die getuienis voor die MRK spruit uit die twis oor die gebruik van Afrikaans op die kampus van die US, veral nadat beweringe vroeër vanjaar tydens die verwelkomingstyd die ronde gedoen het dat studente, en veral eerstejaars, nie Afrikaans mag gebruik nie – ook nie eers onder sosiale en informele omstandighede nie. Talle dameskoshuise was in die spervuur hieroor, onder meer Minerva, Lydia en Irene. Die getuienis van Huis Francie van Zijl op die Tygerberg-kampus van die US het gegaan oor ʼn voorval in 2018 wat nie iets met vanjaar se voorval te make het nie.

Die getuienis is onder die voorsitterskap van Chris Nissen van die MRK aangehoor en die sittings is ook deur prof. Wim de Villiers, visekanselier en rektor van die US, bygewoon.

Die inwonende hoof van Minerva, Mariëtha Lemmer, en Rina Engelbrecht, inwonende hoof van Irene, sowel as dr. Simthembile Xeketwana, inwonende hoof van Huis Francie van Zijl, het almal ontken dat opdragte aan studente gegee is om uitsluitlik Engels te praat en dat hulle nie opdrag van die US-bestuur gekry het om dit te doen nie.

Milda van Dyk, ʼn eerstejaarstudent wat in Minerva tuisgaan, het dit egter anders ervaar en het in haar getuienis voor die kommissie gesê dat hulle onseker, ongemaklik, geïntimideer en geviktimiseer gevoel het oor die gebruik van Afrikaans.

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

“Ek is direk geaffekteer deur die afdwing van Engels tydens die verwelkomingstydperk in die koshuis. Dit het my en vele ander Afrikaanssprekende nuwelinge ontstel nadat ons in ʼn mentorsessie versoek is om slegs Engels by die koshuis te praat, selfs wanneer ons informeel met ons Afrikaanssprekende vriende praat.

“Daar is vir ons gesê dat indien die HK sien dat ons eksklusief optree deur Afrikaans te praat tydens verwelkomingsaktiwiteite, hulle ons kamer toe sal stuur omdat hul verwelkoming in Engels geskied,” het sy in ʼn eedsverklaring voor die kommissie gesê.

Volgens Van Dyk het die primaria haar gevra om te verstaan dat dit slegs vir die verwelkomingstydperk is, waar daar verwag word dat hulle slegs Engels praat, en dat hulle wel in die geskeduleerde “aftye” hul moedertaal kan praat. Haar rede was dié van inklusiwiteit.

Van Dyk wou uit die taalbeleid aanhaal, maar is deur die primaria en mentor gesê dat die taalbeleid slegs om akademiese redes geld en dus nie op die koshuis van toepassing is nie.

‘Bewyse dat Afrikaanse studente geïntimideer is’

Danie van Wyk het in April vanjaar ‘n griefskrif van die DAK Netwerk teen ‘n deur by die US se administrasiegebou geplak nadat ‘n optog deur die strate van Stellenbosch gehou is. (Foto: Danie Keet)

Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk wat hom ook vir die inklusiwiteit van Afrikaans op die kampus van die US beywer, het in sy getuienis gesê daar bestaan bewyse van Afrikaanse studente wat openlik in die Neelsie en in lesinglokale geïntimideer is. Hulle is as rassiste uitgekryt slegs omdat hulle met mekaar in Afrikaans gesels het.

“Dit is ʼn aantasting van hul basiese menseregte en dit is ʼn ontkenning van hul grondwetlike regte. Die US kan nie sê dat hulle nie daarvan bewus was nie, want dit is wyd en syd op sosiale media geplaas en uitgebasuin.

“Die verbanning van Afrikaans in die algemeen in die koshuise en openbare plekke op kampus, is absurd en het groot konflik veroorsaak. Die verbod op Afrikaanse studente om in Afrikaans te kommunikeer en om onderrig in hul moedertaal te ontvang, is ʼn subtiele vorm van onttaling.

“Afrikaanse studente word dus arbitrêr verbied om in hul moedertaal geselsies aan te knoop, en dit lei tot verdagmakery en wanvertroue onderling, asook onnodige agterdog en wanpersepsies. Ongelukkig word Afrikaans steeds gesien as ʼn taal met politieke bagasie,” het Van Wyk aan die kommissie gesê.

Van Wyk het ook gesê vir alle praktiese doeleindes kan byvoorbeeld isiXhosa-sprekende studente vrylik met mekaar gesels sonder inmenging van die kant van die koshuisbestuur. Dit opsigself is ʼn diskriminerende praktyk wat weer tot ander gevolge kan lei.

“Indien dit die geval is, kan dit nie anders gesien word as openlike aggressie teenoor Afrikaanse studente en Afrikaans in die algemeen nie. Staar Afrikaans uitwissing in die oë op die US-kampus? Studente se menswaardigheid word gruwelik aangetas en hul menseregte geskend. Dit gaan hier oor meer as net ʼn taalbeleid. DAK Netwerk kan nie toelaat dat ons weer geboelie word soos in ʼn vorige politieke bedeling nie. Afrikaans is onder beleg deur hierdie tipe taalbeleid en dit gaan nou om die regte van alle Afrikaanssprekers wit, bruin en swart,” was Van Wyk se betoog.

Wat egter kommerwekkend van die getuienis voor die kommissie was, was die wyse waarop van die US-bestuurslede hulle weerspreek het, meen Van Wyk.

“Die US het self hierdie krisis veroorsaak omdat hy te lank gewag het om op die aantygings en gebeure te reageer. Wat die studente se klagtes betref, is hulle dan waarskynlik reg, gesien in die lig van hierdie vertraagde optrede.

“Die taalkwessie word nie oor akademiese redes gedryf nie, maar wel oor ideologiese en politieke motiewe,” het hy gesê.

‘Konseptaalbeleid onderliggend tot huidige probleem’

Dr. Leon Schreiber.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP en kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het in sy getuienis voor die MRK gesê sy hart is seer om as oud-Matie voor die kommissie te getuig.

“Ek het in my moedertaal gestudeer en as dit nie vir Afrikaans was nie, sou ek waarskynlik nie vandag hier gewees het nie. Ek het reeds in 2019 uit die institusionele forum [van die US] bedank oor die bedreiging vir Afrikaans en die inwerkingtreding van die taalbeleid wat sedert 2017 in plek was.

“Ek het gehoor van die verbod op Afrikaans in Minerva, Irene en Capri en het met studente gesels oor hul ontsteltenis oor die gebruik van Afrikaans op die kampus. Ons het in ʼn petisie meer as 6 000 handtekeninge gekry oor die konseptaalbeleid wat verwerp moet word en wat onderliggend is tot die huidige probleem.

“Hierdie dinge het gebeur en die vraag is hoekom. Die US kan ʼn wêreldklas meertalige instelling wees, maar die kanse is nou verspeel. Die feit dat ons hier is, is ʼn bewys daarvan. Ons sal die beleide, atmosfeer en konteks wat hierdie situasie geskep het, ontleed. Daar is baie rooi vlae wat opspring. Die eerste is dat die taalbeleid aan akademiese kant die Engels aanbod waarborg, maar die Afrikaanse aanbod is voorwaardelik en diskresionêr.

“My indruk is dat wat by die koshuise gebeur het nie losgemaak kan word van die taalbeleid nie. Die huidige beleid bepaal dat niemand oor taal uitgesluit mag word nie. Ons glo ook dat geen persoon se grondwetlike reg om in die taal van haar keuse te praat, deur ʼn universiteit se instruksie of reël belemmer mag word nie. Die huidige beleid laat dit in sy praktiese wese klink asof jy Engels moet praat sodat niemand uitgesluit mag voel nie,” het Schreiber tydens sy getuienis gesê.

‘Engels afgedwing onder vaandel van inklusiwiteit’

Lede van die DAK Netwerk, ʼn groep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, tydens ‘n vroeëre betoging in Stellenbosch. (Foto: Mia Slabbert)

Frederick van Dyk, direkteur van die sekretariaat van Studenteplein, ʼn organisasie wat onder meer studente op die US-kampus bystaan om Afrikaanse leermateriaal te bekom, het in sy getuienis gesê dat die US-bestuur sy getuienis net op die huidige taalbeleid geskoei het, dit verdedig het en nie direkte aandag aan die spesifieke probleem verleen het nie.

“In stede daarvan dat die rektor verwys na wat veronderstel is om te gebeur, verwys hy nie na wat in die werklikheid plaasgevind het nie. Dit is nie my rol hier om die rektor en die US-bestuur se verdediging van die taalbeleid te debatteer nie.

“Ons as Afrikaanse studente besef die realiteit waar Engelse dominansie afgedwing word onder die vaandel van inklusiwiteit, vrees vir gesag en van sosio-maatskaplike skande. Die [studente-] omgewing bevorder en beloon verengelsing en beskou ʼn nie-Engelse ingesteldheid, veral ’n Afrikaanse een, as minderwaardig.

“Ons hoor gereeld by studente wat anoniem na ons kom dat die stelsel gedryf word op grond van vrees vir gesag en dat hulle verneder word as hulle hul moedertaal gebruik omdat die gebruik daarvan jou ongerekonstrueerd maak of selfs gebonde aan afsonderlikheid.

“Intussen is daar ʼn rektor wat in 2015 gesê het dat die US geen plig het om Afrikaans te verdedig nie en aan ʼn kollega verklaar het dat verengelsing die beste is,” het Van Dyk voor die kommissie getuig.

Hy het ook laat blyk dat hy bly is dat die kommissie sy werksaamhede gaan uitbrei en dat meer studente die geleentheid gaan kry hul getuienis te bring.

‘Geen opdrag om Afrikaans te verbied’

Intussen het die US weer ʼn verklaring oor die afgelope week se getuienis voor die MRK uitgereik.

Die US sê die MRK moet toegelaat word om die ondersoek te voltooi en daarom moet daar nie voortydige gevolgtrekkings gemaak word nie.

Die US hou ook vol dat die getuienis van sy personeel en studente wat Maandag en Dinsdag tydens die ondersoek gelewer is, die bevindings bevestig van die Deloitte- forensiese ondersoek dat daar geen opdrag van die US se bestuur was om die gebruik van Afrikaans gedurende die verwelkomingsperiode in Maart vanjaar te verbied nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Jaco ·

In SA is net wit mense mos rassisties. So nou wonder ek maar net, as Afrikaanssprekende Kleurlingstudente, wat nie wit is nie en wie se ouers slagoffers van apartheid was, nou op Stellenbosch Afrikaans met mekaar praat, gaan hulle dan ook uitgekryt word as rassiste?

My siening ·

Wim is n 2 gat jakkals en hoe gouer hy vervang word hoe beter!

Cobus ·

Om wit te wees en van jou ras te hou is mos rassisties, al is jy nie Afrikaans nie, om Afrikaans te wees al is jy dalk ‘n kleurling sal seker ook rassisties wees. Ek is wit, trots daarop en Afrikaans. Dalk is ek ‘n dubbel rassis. Lekker man, lekker!

Heinrich ·

Klink vir my ook sommer na ‘n saak vir die VN, die US kan net die wegspringplek wees vir alles wat aan ons taal en kultuur gedoen is.

Pieter ·

Jy kan probeer, raak aan my en dis aanranding, dan mag ek myself mos verdedig.

Jannie van Niekerk ·

Ja daardie kombinasie is ‘n absolute samesswering teen Afrikaanse Blankes. Dis snaaks dat Gaum nie gesê het :
“Dit kan nogal problematies wees” soos wat hy gedoen het met die EFF se sing van “Kill a Boer” nie…. Sonder om pro aktief op te tree

JohanR ·

Die probeer om ‘n taal dood te maak kry net nie einde nie! Afrikaans sal nooit dood gaan nie. Alles wat ek nou doen doen ek in Afrikaans. Ek is ook Engels magtig, en waar ek rerig moet sal ek Engels skryf en praat maar Afrikaans is nou die taal van die groot ouma’s/oups’s, en dan af deur al die jare. EK IS ‘N AFRIKAANER! As jy daar in ‘n luhawe in Rusland, Japan, Belgie of New York staan en jy hoor ‘n paar mense egte regte Afrikaans praat dan weet jy jy kan jouself voorstel want dit is jou mense wat nou net ge land het, of op pad huis toe is.

jzjz05 ·

Die US verwys met smaak na die Deloitte se bevinding.maar waarom was hulle so stil daaroor toe dit gebeur het, Laat my dink aan die ANC wat deur stilswye en onkening iets goed keur soos plaas moorde

Anton ·

Ek gee glad nie om dat die Xhosas, Xhosa praat by die universiteit wat hulle gebou het nie

Jacobus ·

Die MRK en Deloitte sien nie hulle opdrag om reg te laat geskied nie. Hulle gaan slegs herhaal wat hulle politieke popmeesters bepaal. Wat ‘n tragedie vir ‘n eens topklas inrigting. Die top bestuur moet hulle self ernstig bedink.

James ·

Die Xhosas kan by NMU en Grahamstown gaan swot. Daar hoef hulle nie Afrikaans aan te hoor nie.

Sarel ·

Almallidg behalwe ons……weet die US dst Rusland hulle plig ooegenedm het en Afrikaans as vak aanbied…seker nie

JM ·

Wie het Stellembosch Universteit tot stand gebring? Afrikaners! Nou word dit oorgeneem en beleër deur anderstaliges, veral Engelssprekendes.

Chris ·

Ek stem al die ander universiteite is al engels. Gun ten minste een uni om afrikaans te wees.

Ian ·

As jy gaan kyk na portugal, frankryk, italie ens. Hulle moeder taal kom eerste en as jy so sou voel kan jy n ander taal by leer maar engels is nie tweede taal nie. In SA is ons besig om die punt te mis. Hier is al zulus en setwanas wat nie eens hul eie taal kan praat nie. Engels is n probleem en hoekom want dit was afgeforseer van 1902 af.

Keelvol ·

Die onderdrukking van Afrikaans word deur ons eie mense ook toegejuig.

Jannie van Niekerk ·

Ja en prof Wim De Villiers neme die voortou (Moet tog asb nie De Vilheers sê nie want dis nie Engels genoeg nie hy wil mos De Viljee wees..)

AmY ·

En die Engelse witman is nie rassisties nie? Engels Engels, alles Engels!!!

Sarel ·

Ironie is daar word altyd van die Afrikaansprekende verwag om.oor te slaan na Engels, en ons kan dit doen
Maar Engels sprekende sal geen moeite doen vir Afrikazns nie.

DieKriek ·

Ek het altyd gedink tweetaligheid is puik. Ek het uit n Afrikaansprekende huis van my eerste skooljaar af n Engelse skool bygewoon en is uitsluitlik in Engels opgevoed. Maar nou, met my kleinkind wat leer praat, sien ek n aardige ding. Ons praat Afrikaans maar as ons vir haar Engelse woorde sê, is haar Engelse uitspraak baie beter as die Afrikaanse een. So, ek voel nou Afrikaans is moeiliker om te leer en kinders moet dit eerste onder die knie kry. Al die outjies wat Afrikaans wil afskaf is seker net te dom om dit te leer :-)

Transvaalboer ·

Ek het n sterk vermoede dat sodra Akademia se kampus voltooi is hulle oorval gaan word met aansoek om daar te studeer en mettertyd sal al minder afrikaanse studente by die ander universiteite studeer wat in iedergval volksvreemd geword het, maar so kry boontjie sy loontjie.

annie ·

Smuts, Botha en De Klerk was betower deur Britse swier en swank… en daar’s nog Boere op daai lys. Destyds na die Groot Trek het trekkers by Engelse sendingstasies aangedoen vir troues en doop maar die ‘heilige’ dominees en hul Engelse slawe/students het hul doodgelag vir die skewe Engels van die verfynde eens Franse Hugenote; sendelinge wat inderwaarheid eerder prospekteerders was. G’n Kaapse dominee wou die binneland betree om hul taak te volvoer nie, te kwaad dat hul gemeentes leegloop van bling. Die Kaap was nog nooit Hollands nie. Net Engels.

Samuel ·

Hoekom moet die raskaart altyd gespeel word? Hoe kan jy ‘n rassis wees omdat jy Afrikaans praat? Daar is beslis ‘n ideologiese dryfveer agter die hele taalkwessie.

Malan ·

Ek is trots daarop om te sien dat daar nog jongmense soos Milda van Dyk is. Ons is trots op jou Milda. Maar in dieselfde asem is ons verafsku deur mense soos jou primaria en haar meelopers. Kan ons nie fotos kry van hierdie grootbek primaria sodat ons haar ‘n bietjie publisiteit kan gee nie?

Werner ·

Wim de Villiers is aangestel om Afrilaans te vernietig. Ons sal nooit ontslae raak van die hordes liberale lafaards onder ons nie.

Jacques ·

Ek het geweet daar is ń slang in die gras. Die waarheid sal seevier en Universiteit Stellenbosch sal moet verantwoording doen. Dis baie tragies. Afrikaans word om elke hoek en draai versmoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.