Vonke spat oor minimumloon

Argieffoto

Die vonke het Woensdagoggend behoorlik in die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid gespat oor beoogde veranderings in arbeidswetgewing om ʼn nasionale minimumloon af te dwing.

Dit gebeur nie dikwels dat ideologiese skeidslyne so presies getrek word oor so ʼn belangrike stuk wetgewing as wat met hierdie een die geval is nie, en drie basiese, grootliks onversoenbare vertrekpunte deur die land se drie grootste politieke partye is ter sprake.

Eerstens is daar die DA wat die wetgewing onversetlik en onomstootlik teenstaan. Die twee DA-LP’s op die komitee, naamlik die bekende arbeidsprokureur Michael Bagraim en die ervare arbeidspraktisyn Derrick America, voer aan dat die wetgewing soos dit tans voorgestel word só wyd toepaslik en streng is dat dit werkgeleenthede gaan kos omdat soveel werkgewers dit nie sal kan bekostig of administratief sal kan byhou om mense in diens te neem in die getalle wat hulle dit tans in diens het nie.

Bagraim het vanoggend so ver gegaan as om dit te stel dat die wetgewing soos tans voorgestel die potensiaal het om die ekonomie in sy geheel te vernietig.

Hierin word die DA se argument versterk deur die vooruitskattings van die nasionale tesourie wat bereken het die strenger regulering van arbeidsvergoeding deur die instel van ʼn nasionale minimumloon kan die land tot 750 000 werkgeleenthede kos.

Aan die ander kant voer die EFF in die komitee aan dat die wetgewing te gekompliseerd is en nie werklik die uitbuiting van werkers genoegsaam gaan verminder nie.

Die EFF wil hê elke werker – ongeag wat hul taak is – moet verseker wees van ʼn minimumloon van R5 000 per maand, sonder uitsondering.

Die ANC staan voor dat ʼn minimumloon van R20 per uur ingestel word, met uitsonderings vir huiswerkers (R18 per uur), plaaswerkers (R16 per uur) en werkers aan die uitgebreide openbare werke-program (R11 per uur), met verdere uitsonderings moontlik.

Die voorsitter van die komitee, die ANC-LP Sherome van Schalkwyk, het vanoggend telkens haar hande vol gehad om te sorg dat die gesprek nie ontspoor nie.

Vanoggend het parlementslede, die parlementêre regsadviseurs en die departement van arbeid die geleentheid gehad om te reageer op die insette en besware van ʼn verskeidenheid betrokkenes, waarvan Agri SA en Bosbou SA die meeste insette ingestuur het.

Agri SA het aangevoer dat ekonomiese groei noodsaaklik is voordat die lot van loonarbeiders gaan verbeter. Hoewel alle partye dit toegegee het, het die ANC en die EFF dit duidelik gemaak dat hulle nie wil hê dit moet as rede aangewend word om die instelling van ʼn minimumloon te vertraag nie.

Bagraim het male sonder tal die debat probeer swaai in die rigting dat werkgeleenthede in die proses verloor gaan word, maar die ANC en EFF se irritasie was duidelik en hulle wou nie tot so ʼn kinkel in die gesprek instem nie.

Op sy beurt het die EFF benadruk dat daar geen uitsonderings op die minimumloon moet wees nie, wat weer die ANC en DA in dieselfde kamp teen die party in rooi ingedwing het.

AgriS A se versoek dat die implementeringsdatum van ʼn nasionale minimumloon uitgestel moet word, het simpatieke oorweging van die DA en ANC uitgelok, maar is deur die EFF afgeskiet.

Bagraim het namens die DA ʼn verbete aanslag op die definisies van “werker” en “werknemer” in die wetgewing gelei, en almal het ingestem dat die hof daaroor klarigheid moet gee voordat dit finaal in die wetgewing gedefinieer word.

Agri SA het uitgewys dat die huidige droogte in groot dele van die land dit vir boere moeilik kan maak om die minimumloon in te stel, waarop die departement van arbeid boere aangeraai het om in so ʼn geval vir uitsonderingstatus aansoek te doen.

Bagraim se volgende aanvalslyn was dat die wetgewing in elk geval onmoontlik sal wees om te administreer omdat omtrent 70% van Suid-Afrikaanse werkers nie eens aanstellingsbriewe het om op terug te val nie. Hierin het hy geen steun van die ANC of EFF ontvang nie.

Op die sleutelvraag of lone afwaarts aangepas kan word as dit tans bó die minimumvlak is het Van Schalkwyk namens die ANC gesê dit is nie die bedoeling nie, maar dit is duidelik dat hierdie kernkwessie verdere aandag sal geniet namate die portefeuljekomitee sy werk voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Ek besef dit is nie baie geld nie, maar my besigheid kan dit nie bekostig nie. Dus sal poste gesny word.
Hul moet maar by Rooies gaan hoor hoekom.

Gemaskerde Sopbeen ·

Na die heel eerste gesprek wat gevoer is oor hierdie onderwerp het my arbeidsmag onmiddelik R20/uur ge-eis, en daarop aangedring dat die Minister NIE gesê het dat daar ondersoek gedoen sal word oor die haalbaarheid daarvan en dan terugvoer aan die parlement gegee sal word nie. Hulle wou ONMIDDELIK die minimumloon van R20/uur hê, of staak. Ek het toe maar ingestem vir hulle eis…..en almal Donderdag middag betaal. Toe hulle wou weet hoekom ek dit doen, het ek verduidelik dat my klein besigheid nie meer Vrydae sal handel dryf nie…..ek sal admin doen, voertuie was, masjienerie onderhou en bemarking doen. Toe kry almal minder as voor R20/uur……Na ‘n half-uur se vergadering het almal ingestem om terug te gaan na die ooreengekome uurlikse vergoeding……..en tot vandag toe nie weer ‘n woord nie.

Jongboer ·

Hoekom subsideer die staat nie die Werkgewer vir elke werknemer nie? Instede van grants kan hul eerder so verseker dat werkloosheid verminder en sodoende die bakhand kultuur stop!

Nix ·

Hulle wil meer geld hê…… R5000-00 per maand…… maar maak die mense dood wat die R5000-00 moet betaal….. As ons dink werkloosheid is nou buitensporig hoog, gaan hulle sien wat gebeur as plaaswerkers daardie lone betaal moet word. Die meeste boere sal sommer vrywillig oppak en die sleutels vir die naaste oukie gee….

Dries ·

Die groot moeilikheid gaan begin wanneer masjiene hul werk gaan oorvat want n masjien staak nie.

anette ·

As klein besigheid het ons 16 werkers. Elke jaar word die huur met 10% verhoog, water krag en nou die lone. Dink dit is verregaande! Wat dink die regering waar moet als vandaan kom. Hul moet onthou die skatkis is ook leeg vir hul gebruik!

Pieter ·

Dit is min geld maar ek sal dit nie kan bekostig nie , ongelukkig gaan mense sonder werk sit.

??

bgj van der westhuizen ·

ja mense ek verstaan wat julle se maar kyk na die volgende voor beeld ek weet van n tuin diense maaskapy wat tussen R110 en R150 betaal per dag vir hulle werkers maar elke jaar kan die eienaar oor see gaan vra nou vir jou ook self af gaan jy vir dit werk en as jy moet sien jy sukkel om kos op die tafel te sit en die baas kan oor see gaan en as jy verhoging vra dan se hulle daar is nie geld nie kom aan baie van julle moet ook n slag kyk wat kos goed van dag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.