Vonke spat oor SAUK se politieke rol

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die hare het vandag behoorlik gewaai toe die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie vergader het om ‘n kortlys op te stel sodat die SAUK-raad weer ‘n kworum kan hê en kan funksioneer.

Maar die vergadering het nooit by die kortlys uitgekom nie. Dit het eerder verval in ‘n reusagtige bakleiery waarin die DA en die EFF aanval na aanval geloods het op die ANC oor die beweerde verpolitisering van die SAUK in die aanloop tot vanjaar se algemene verkiesing.

Dit was gou duidelik dat die ANC niks lus is vir die proses om ‘n nuwe SAUK-raad daar te stel nie. Sonder ‘n SAUK-raad is daar nie ‘n regulatories-onafhanklike oorsigtelike liggaam om toe te sien dat die SAUK sy werk kragtens die Grondwet en beleid uitvoer nie.

Die ANC-LP Bongani Bongo het gesê voordat die agt vakatures wat op die SAUK-raad bestaan, gevul word, moet daar eers presies vasgestel word wat die probleme is wat tot die agt onlangse bedankings van agt SAUK-raadslede gelei het.

Die SAUK moet eers ‘n omdraaistrategie daarstel, en ‘n volledige ondersoek moet deur onderhoude met sowel die SAUK-raadslede wat bedank het as diegene wat nie bedank het nie, gedoen word, aldus Bongo.

Namens die EFF het Mbuyiseni Ndlozi behoorlik onder die ANC ingeklim. Ndlozi het gesê dis die ANC wie se inmenging deurgaans daartoe lei dat vaardige en gerespekteerde raadslede binne maande uit hul poste bedank.

“Die ANC-regering ondersteun nie die SAUK-raadslede nie. Trouens, geen regdenkende mens kan die ANC-regering vertrou om die raadslede toe te laat om hul werk onbevange en sonder inmenging te doen nie,” het Ndlozi aangevoer.

“Die ANC verseker telkens dat die SAUK-raad misluk en inplof. Daarom is dit noodsaaklik dat ons onderhoude doen met diegene wat uit die raad bedank het, sodat die politieke intriges en politieke taktiek van die ANC aan die kaak gestel kan word.”

As Ndlozi geïrriteerd oorgekom het, was daar net een woord om die reaksie van die DA-LP Phumzile van Damme op te som: woedend. Sy het gesê die gebeure is ʼn gevolg van ‘n beplande en deurdagte projek van die ANC om te verseker dat daar geen behoorlike oorsig oor die SAUK is tydens die verkiesingstyd nie.

“Die ANC probeer om die aanstelling van ‘n SAUK-raad om politieke redes te vertraag. Wees net ‘n slag eerlik! Die ANC soek nie ‘n funksionerende SAUK of SAUK-raad nie. Hulle wil dit nie hê nie!”, het Van Damme beweer.

Op daardie punt het die komiteevoorsitter en ANC-LP, prof. Hlengiwe Mkhize, beweer Van Damme is besig om te poog om die komitee in anargie te laat verval. ANC-LP’s het die een na die ander hul steun vir ‘n deurtastende ondersoek uitgespreek voordat ‘n nuwe SAUK-raad aangestel word.

Ndlozi het vervolgens weer aan die woord gekom met die mening dat dit nie saak maak wie op die raad aangestel sal word nie – hulle sal misluk so lank as wat die ANC onophoudelik polities inmeng.

Uiteindelik – ná ure se heen en weer stryery – is besluit dat die onderhoude met SAUK-raadslede wat bedank het, op 5 Maart sal plaasvind, waarna ‘n besluit oor wanneer ‘n nuwe SAUK-raad aangestel sal word, geneem kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries du Toit ·

O genade as Ndlozi sy sin kry gaan ons teveel van Malema te sien kry. Spaar ons dit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.