Vonnis ‘krap wonde oop’ vir Dendron-egpaar

Chris en Leonise Joubert (Foto: Facebook)

Ou herinneringe van die aanval op Chris en Leonise Joubert op hul plaas naby Dendron, Limpopo, op 4 Augustus 2020, het weer opgevlam tydens die vonnisoplegging van een van die verdagtes.

Mabena Moloko (21) is in die hooggeregshof in Polokwane tot tien jaar tronkstraf gevonnis ingevolge ʼn pleitooreenkoms met die staat. Hy is skuldig bevind op aanklag van sameswering om ʼn rooftog te pleeg.

Moloko is die seun van die egpaar se huishulp en het soos ʼn kind voor die egpaar grootgeword. Hy was 18 ten tyde van die aanval.

Sy medebeskuldigdes se verhoor sal tussen 7 en 19 Augustus in dieselfde hof geskied. Hul name word in hierdie stadium nie bekendgemaak nie omdat hulle nog nie op aanklagte van verkragting gepleit het nie.

Moloko gaan as staatsgetuie teen sy medebeskuldigdes getuig.

Die Joubert-egpaar het gehoop die saak word nou heeltemal afgehandel en was ietwat teleurgesteld dat hulle nou nog langer moet wag voordat geregtigheid ten volle kan geskied.

“Ons besef egter ook dat die reg met ʼn doel die nodige tyd neem sodat elke krieseltjie onduidelikheid aan die lig gebring kan word,” vertel Leonise aan Maroela Media.

Die hofsaak is sedert 2020 herhaaldelik om verskeie redes uitgestel en met elke hofverskyning wat die egpaar bygewoon het, is die ou wonde weer oopgekrap. Die einde van die regstryd is egter in sig.

“Dit bly baie moeilik om weer aan alles herinner te word, maar ons is so bevoorreg om bygestaan te word deur ons kinders, familie en dierbaarstes.”

Leonise het vroeër vertel berusting sal kom sodra die hofsaak afgehandel is. Sy het die mans vergewe en is dankbaar vir ʼn tweede kans op die lewe.

Maroela Media het vroeër berig drie mans het die aand by die egpaar se plaashuis ingebreek en vir Chris erg aangerand. Leonise is twee keer verkrag. Chris se 99-jarige ma, Betsie, was ook in die huis, maar het fisiek ongedeerd van die voorval afgekom.

Moloko en sy twee medebeskuldigdes is kort ná die aanval in hegtenis geneem. Een van hul makkers is tydens ʼn jaagtog met die polisie doodgeskiet.

Leonise het meer as ʼn jaar gelede by die CVO in Vivo begin skoolgee en Chris het ʼn werk by ʼn boer in die omgewing gekry. Die egpaar woon nou by die skool en verhuur die plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Siek werklike RSA waar die Prez trots is op sy Polisie minister se werk.

Elmarie ·

Leonise, jy is ‘n WONDERLIKE mens, beter as ék, dat jy hul kon vergewe na wat hul jou aangedoen het. Mag jy regtig berusting vind al dink ék die vonnis is heeltemal te lig. Heeltemal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.