Vonnisverrigtinge hervat van vrou wat bejaarde onthoof

Sandra Malcolm. Foto: mirror.co.uk

WAARSKUWING: Die besonderhede in die berig is uiters grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die jong vrou wat op 18-jarige ouderdom ʼn bejaarde vrou van Kaapstad onthoof en haar lyk opgesny het, se vonnisverrigtinge hervat na verwagting Vrydag in die Kaapstad-hooggeregshof.

Sheree Prince, nou 21 jaar oud, staan tereg vir die moord op Sandra Malcolm (74). Prince het in April 2015 by Malcolm, ʼn Skotse burger, se huis in Lakeside in Kaapstad ingebreek. Malcolm het haar glo betrap, maar Prince het aangevoer sy soek hulp omdat sy haar voet gebrand het. Malcolm het Prince gehelp om haar voet te behandel en Prince het Malcolm verskeie kere met ʼn mes in die bors gesteek.

Daarna het sy vir Malcolm onthoof, haar ledemate afgesny en van haar ingewande verwyder.

Prince is aangekla van moord, huisbraak en diefstal. Sy het skuld beken op aanklag van moord, maar skuld ontken op die ander twee aanklagte. Sy is in Maart vanjaar skuldig bevind op al drie aanklagte.

Vonnisverrigtinge het verlede week begin en Prince het emosieloos in die beskuldigdebank gesit terwyl die getuienis aan die hof voorgehou is.  Willie Hanekom, ʼn kliniese sielkundige, het getuig Prince toon tekens van psigopatie.

Hanekom het verder getuig indien Prince nie in hegtenis geneem is nie, sou sy voortgegaan het met haar dwelmmisbruik en hopelose bestaan. Indien sy dan onder genoeg druk geplaas sou word, is dit waarskynlik dat sy nog ʼn moord sou pleeg.

Kapt. Marius Joubert, ʼn forensiesemisdaadtoneelkenner en bloedspatselontleder, het tydens die hofverrigtinge getuig Malcolm het waarskynlik van haar beserings in die kombuis opgedoen. Na aanleiding van die bloedspatsels het sy waarskynlik gestaan toe sy die eerste keer gesteek is, en kon sy lank genoeg staande bly vir baie bloed om op die vloer te drup voordat sy inmekaargesak het. Sy is daarna nog verskeie kere gesteek.

Malcolm is daarna van die kombuis na die woonkamer gesleep en volgens Joubert moes sy in dié tyd steeds gelewe het. Sy is in die woonkamer weer met die mes gesteek, voordat sy uit by die voordeur en na die binnehof van die huis gesleep is. Dit is vermoedelik daar waar haar liggaamsdele verwyder is.

Die staat voer in sy betooghoofde aan dat Prince swaar vonnisse opgelê moet word en dat daar geen buitengewone omstandighede bestaan hoekom daar van die minimum vonnis vir die oortredings afgewyk moet word nie.

Volgens die staat is Prince se kans op rehabilitasie skraal aangesien sy geen berou vir haar dade getoon het nie.

Die staat het die hof versoek om Prince tot lewenslange tronkstraf te vonnis op aanklag van moord en die maksimum vonnisse vir die ander twee aanklagte op te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kiewiet ·

NEE!!!!!!! Asseblief tog, net nie dit nie! Bring die doodstraf terug. Die vermoorde is nie daar om enige plesier uit die lewe te kry nie…..moordenaars moet ook nie meer lewe nie of enige manier van plesier in die lewe smaak nie….nie eers ‘n grap wat die persoon kan laat lag nie….hulle moet ook die plesier van lewe verloor….

Juliana ·

Dit is so eronies altyd…wanneer iemand skuldig is dan kry baie dinge skuld…sy moet psigopaties wees om sulke goed te kan doen…drugs? Sy moet van die samelewing verwyder word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.