Vonnisverrigtinge van Potch-beesboer se moordenaars uitgestel

Marietjie en Koos van der Leeuw (Foto: Verskaf)

Die vonnisverrigtinge van die drie verdagtes wat skuldig bevind is aan die moord op Koos van der Leeuw (68), is Woensdagoggend in die rondgaande hof in Klerksdorp uitgestel.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het twee van die beskuldigdes hulle regsverteenwoordigers die trekpas gegee voordat vonnisverrigtinge kon begin en moes die vonnisoplegging na Donderdag uitgestel word.

“Daar is nie duidelike redes gegee waarom die beskuldigdes hul regsverteenwoordigers afgedank het nie,” sê Mamothame.

Bibi Ngcamphalala, Idah Lebaka en Samuel Motsi is in September skuldig bevind aan moord asook op twee aanklagte van gewapende roof.

Koos, ’n bekende beesboer en sakeman van Potchefstroom in Noordwes, is in Augustus 2015 by die dorp se slagpale deur aanvallers oorval en in die kop geskiet. Hy was vroegoggend saam met sy vrou, Marietjie (73), by die slagpale om ʼn transaksie met ʼn man van Krugersdorp te beklink. Die aanvallers het op die toneel aangekom en Koos is geskiet. Hy is later in ’n Johannesburgse hospitaal dood.

’n Vierde verdagte, Tefo Mohua, het nie vir die vorige hofverrigtinge opgedaag nie en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy is vroeër borgtog toegestaan.

Marietjie sê Mohua het glo die dag van Koos se moord op haar geskiet en staan tereg op aanklagte van poging tot moord. Sy is verslae oor die regstelsel wat Mohua borgtog toegestaan het en dat hy nou al vir so lank op vrye voet is.

Dié kranige boervrou het na Koos se dood die bedrywigheide op hul beesplaas oorgeneem. Sy en die res van die familie het getrou die hofsake bygewoon, maar nie vandag se hofverrigtinge nie. Sy het aan Maroela Media vertel dat sy wil aanbeweeg met haar lewe.

“Ek steur my nie aan die vertraging van die vonnisoplegging nie omdat ek weet die skuldiges is klaar agter tralies.”

Sy sê die skuldiges se vonnis staan haar ook eintlik nie aan nie. “Ek weet die groot straf lê eendag by die Hoër Hand. Ons laat dit in die hand van die gereg.”

Sy het vroeër aan Maroela Media gesê die afgelope vyf jaar was ontsaglik moeilik vir die familie omdat hulle nie afsluiting kon kry nie. Al waaraan hulle kon dink, was die hofsaak. Die saak het baie lank gesloer en is gedurig uitgestel.

“Nooit sal daardie afsluiting regtig daar wees nie, maar vir nou kan ek net probeer aangaan met my lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Is niemand in Suid Afrika meer bang om ‘n lewe te neem nie? Tensy ek moet om myself, familie of ‘n vreemdeling te beskerm ,sal ek vrek bang wees om iemand net dood te maak vir die lekkerte daarvan want die een plek waar jy nie wil wees is ‘n SA tronk. Maar die lyk my in SA is dit lekker sport om iemand dood te maak net vir die lekkerte. Daar is rerig sekere dade waar ‘n tou om ‘n tak moet gegooi word!

Maria ·

Dankbaar om te hoor die skuldiges sit agter tralies. Hoop hulle vang die laaste een ook.

Mariana ·

Reeds skuldig bevind, hoekom die vonnis uitstel of dalk weer in die niet sal verdwyn. Hier is kriminele mos die belangrikste. Mense lewens in SA beteken niks meer nie.

Jakes ·

Weereens moet gevra word waarom borgtog toegestaan word nadat n moord gepleeg is? Slegs in buitengewone omstandighede word dit toegelaat volgens die strafproseswet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.