Voor-belasting stormloop deur kopers

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Met die onlangse aankondiging van ’n verhoging in BTW en ad valorum-belasting (duurder voertuie vir die rykes) kan ’n mens verwag dat die Maart-verkopesyfers kunsmatig hoog sou wees. Dit het toe inderdaad gebeur en totale verkope was 535 eenhede, of te wel 1,1 % hoër as in Maart 2017 – vir ’n totaal van 49 223. Trouens, sekere invoerders soos Porsche is waarskynlik betaal vir voertuie wat nog op skepe is.

Onder die top-verkopers – die gebruiklike tien bo-aan die lys – was Toyota oudergewoonte baas met ’n indrukwekkende totaal van 11 378 – nagenoeg 700 eenhede meer as in Februarie vanjaar. Wat veral beïndruk het was Hilux-verkope wat nou in die rigting van 4 000 eenhede per maand neig met ’n allemintige 3 825 verkope in Maart. Ander Toyota-uitblinkers was Fortuner op 1 274 en Quantum waarvan 1 540 eenhede nuwe tuistes gevind het. Interessant is egter dat RAV (463) swakker gevaar het as Volkswagen se Tiguan (525).

Van Volkswagen gepraat – die tweede plek behoort steeds aan die mense van Uitenhage met ’n totaal van 7 541. Dis veral VW se passasiersmotors wat die syfers goed laat lyk met Polo Vivo (verlede jaar se Polo) op 2 736 verkope, gevolg deur die nuwe Polo op 2 121. Die Groep se Audi-afdeling het self redelik gevaar met 782 eenhede wat verkoop is – maar dis net sowat 11% van die VW-groep se totaal. Wenkbroue sal ook gelig word deur Amarok se swak vertoning (176) wat tot gevolg gehad het dat hy selfs deur die Mahindra Pik Up (196) en die Hyundai H100-bakkie (285) oortref is.

Ford bly in die derde plek met ’n redelike totaal van 5 595 waarvan Ranger vir 2 753 verkope gesorg het, gevolg deur goeie vertonings deur EcoSport (813), Everest met 559 verkope en Fiesta op 477. Selfs Kuga keer stadig maar seker terug met 119 eenhede wat verkoop is.

Nog ‘n Pretoriase invoerder/vervaardiger, Nissan, bly stewig in die vierde plek met sy 5 410 totaal – net ’n kortkoppie agter Ford. Nissan se sterre is NP200 (1 562), Datsun GO (619) en Navara wat skielik na vore gekom het met 447 eenhede wat nuwe tuistes gevind het. Die immer gewilde Qashqai (489) en X-Trail (444) speel ook ’n groot rol in Nissan se suksesverhaal.

Die eerste Koreaan op die lys van tien – Hyundai – staan stewig in die vyfde plek danksy Grand i10 op 1 032, i10 op 516 verkope en Creta waarvan 413 eenhede verkoop is.

Mercedes-Benz (2 379) bly steeds in die sesde plek, maar maak nie individuele modelverkope bekend nie, teenoor Renault wat in die sewende plek is met 1 904 totale verkope danksy Kwid (856), Clio IV (442) en Sandero II met 294 verkope.

Die agtste plek het ’n verrassing opgelewer met BMW (1 713) wat twee plekke opgeskuif het danksy goeie vertonings deur 3-reeks (506), X1 met 224 en X5 met 171 verkope. Na verwagting sal die onlangse bekendstelling van die puik nuwe X2 BMW se posisie nog verder verbeter.

Isuzu (negende) bly steeds op die lys met 1 581 verkope, maar het eintlik net een perd in sy stal, naamlik KB, terwyl die verbintenis met Opel darem gesorg het vir 255 addisionele verkope.

Nog ’n Koreaan, Kia, bly gemaklik in die tiende plek met ‘n totaal van 1 517 verkope – gerugsteun deur Picanto (789), Rio op 355 en Sportage met 181 verkope.

Onder die invoerders buite die tien top-verkopers het Porsche beïndruk met ’n uitstekende 141 verkope, Jaguar met 649 – danksy die belowende nuwe E-Pace (136) – en Range Rover Sport waarvan 147 eenhede verkoop is. Die Jaguar-totaal van 147 is steeds beter as Lexus wat 101 verkope kon aanteken.

Volvo Cars, met ’n beskeie 143 verkope, behoort beter te vaar – gegewe hierdie Sweedse vervaardiger se gehalte. ’n Voorbeeld hiervan is die skitterende nuwe CX40 wat aan die einde van 2017 wêreldwyd bekendgestel is, maar wat sonder flitsende ligte en balonne stil-stil hier aangekom het.

Mazda (1 246) verdien ook spesiale vermelding, danksy goeie vertonings deur CX-5 (378) en CX-3 op 349 verkope. Selfs die onderskatte BT-50-bakkie neig na drie syfers met 98 verkope in Maart.

Soos verwag kan word, het voornemende kopers van über-luukse voertuie ook vroeg ingeklim en met 8 Bentleys, 11 Ferraris en 10 Maseratis weggery.

Intussen word naels gekou deur handelaars wat wag op die impak van al die belastingverhogings en die uitwerking van die vakansiedae in April.

Die tien top-passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo Vivo 2 736
  2. Volkswagen Polo 2 121
  3. Toyota Fortuner 1 274
  4. Hyundai Grand i10 1 032
  5. Toyota Corolla/Auris/Quest 1 189
  6. Renault Kwid 856
  7. Ford EcoSport 813
  8. Kia Picanto 789
  9. Toyota Etios 696
  10. Datsun GO 610

Die tien top- ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux 3 825
  2. Ford Ranger 2 753
  3. Nissan NP200 1 562
  4. Toyota Quantum 1 540
  5. Isuzu KB 1 273
  6. Nissan NP300 603
  7. Nissan Navara 447
  8. Hyundai H100 285
  9. Volkswagen Caddy 253
  10. Mahindra Scorpio Pik Up 196

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Pompies ·

Ons wil graag ‘n Amarok koop maar met prys aanpassings en opgraderings deur VW plaas die voertuig net eenvoudig buite ons bereik. Ek seker daar is baie kopers wat ‘n intree model dubbelkajuit Amarok sal koop. Eenvoudige model, 4X2 high rider, materiaal sitplekke, ABS, lugsakke radio, lugversorger teen R350K. Naam Amarok Bakkie

VW Bakkie ·

Ek voel VW het al te lank gewag met sy klein bakkie ook. As hy in die mark was met n VW Polo bakkie (Diesel en petrol) sou Toyota hilux nie bo gewees het nie. Daar is n groot vraag na n klein bakkie en n groot goedkoop bakkie. Dit is van toepassing in Suid Afrika. Wens net VW wil luister na hulle gebruikers. Ai!

Piet Pompies ·

Ek besit tans ‘n 2006 VW Caddy Bakkie, hierdie voertuig is net soos die Citi Golf baie goedkoop om te onderhou. Dit is regte 2de ryding om goedere te laai, bestuur maklik, parkeer maklik. My punt is, daar is tans ‘n gerug dat VWSA die Polo weergawe Bakkie gaan bou in regterhand stuur vir die SA mark en uitvoer na ander lande waar regterhand stuur gebruik word. Die voorkant is gegrond op die nuwe 2018 Polo Vivo en die agterkant aangepas na ‘n bakkie. VWSA ontken of erken nie die gerug.

Eish ·

Verbasend dat die “Ampertrok” die pot so totaal missit?
Met sulke teleurstellende verkope gaan die inruilwaarde verseker neusduik.
Duidelik nie die Suid Afrikanerse bakkiekopers se gunsteling nie.

Rupert Ashford ·

Wat is die verskil tussen Nissan NP300 en Nissan Navara? Oor die Amarok verkope kan mens maar net se daar is nie pille nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.