Voor die huis geskiet: Ma na privaat hospitaal oorgeplaas

Argieffoto

Argieffoto

Erika Pretorius, die 26-jarige ma van Primrose, Germiston wat verlede Dinsdagaand in die oprit van haar huis geskiet is, sterk aan nadat sy na ʼn privaat hospitaal oorgeplaas is.

“Onder omstandighede gaan dit goed,” het Faan Pretorius, Erika se oom, Maandag aan Maroela Media gesê. “Sy word in die intensiewesorgeenheid onder verdowing gehou sedert sy van die Charlotte Maxeke-hospitaal na Millpark oorgeplaas is. Haar dokters is stelselmatig besig om haar by te bring. Sy het al haar oë oopgemaak, maar nog niemand herken nie.”

Erika is ernstig beseer toe sy tydens die vermeende kaping agter in haar kop geskiet is. Die familie wag nog vir uitslae van toetse om die omvang van haar beserings te bepaal.

Maroela Media het Donderdag berig Erika, en haar ma Carol (54), is tydens die kapingpoging in hul motor voor Erika se huis geskiet. Carol se seun, Helmut (14), het omstreeks 20:15 die hek vir sy suster oopgemaak, toe twee gewapende mans op die vroue afgestorm en albei in hul kop geskiet het. Erika se buurman het die skote gehoor en gaan ondersoek instel, waarna hy in die bors geskiet is. Die verdagtes het ʼn selfoon gebuit en in hul eie voertuig gevlug. Carol is later in die hospitaal dood.

Ao. André de Jager, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het aanvanklik ʼn saak van poging tot gewapende roof ondersoek, maar ondersoek nou ʼn saak van moord, poging tot moord en poging tot ʼn kaping.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Albert ·

Ons SA burgers moet lank reeds nie meer net bekommerd wees oor plaasmoorde nie. Nee!! En hierdie is ook nie die eerste voorval van waar mense bloot by die huis se ingang of sommer in die huis doodgeskiet is of probeer vermoor was nie. As hierdie voorval dan n kaping was, hoekom het hul opgedaag in hul eie vervoer? Dit is polities aangedrewe voorvalle die wat n direkte gevolg is van Malema se haatspraak teenoor Blankes in hierdie land. Presies wanneer is Zuma van plan om in te gryp in hierdie land se huidige misdaad ontploffing??

Herman ·

Albert, ek dink dit sal nooit gebeur nie. Misdaad kan nie beheer word nie. Solank die moordenaars en diewe rondloop in die strate ipv in die tronke, sal dit so aangaan en Zuma doen niks. Hy kyk net na sy eie sak en sukkel self om met lieg stories uit die tronk te bly. Misdaad is hier om te bly. Elkeen moet hom en haar net self beskerm daarteen. Dis al.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.