Vooraanstaande taalkundiges uit Nederland in Suid-Afrika

Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in die Wes-Kaap Foto: Taalmonument, Facebook

Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in die Wes-Kaap Foto: Taalmonument, Facebook

Vyf vooraanstaande taalkundiges uit Nederland neem hierdie week deel aan ʼn werkswinkel om te help om Afrikaans omvattend te beskryf. Hierdie werkswinkel is een van die eerste inisiatiewe van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).

Vanaf 29 September tot 3 Oktober 2014 vergader die Nederlanders saam met prominente Afrikaanse taalkundiges in Pretoria om die projek van stapel te stuur. Die Nederlandse programmatuur en inhoud sal as basis dien om ʼn soortgelyke bron vir Afrikaanse op Taalportaal beskikbaar te stel.

“ʼn Digitale hulpbron gelykstaande aan ongeveer 6 000 bladsye sal in hierdie projek ontwikkel word,” het Dionē Prinsloo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), gesê. “Dit beloof om nie net by te dra tot internasionale belangstelling in Afrikaans as ʼn Germaanse taal nie, maar sal ook in die toekoms as basis dien vir ander hulpmiddels soos skoolhandboeke, aanleerdersgidse en programmatuur soos grammatikatoetsers.”

Een van die hulpbronne wat ontwikkel gaan word, is ʼn omvattende grammatika van Afrikaans: ʼn beskrywing van Afrikaans se taalstruktuur in gebruik. Dié grammatika sal uiteindelik gratis aanlyn beskikbaar gestel word vir enigeen om te gebruik.

VivA is ʼn internasionale inisiatief van die SAAWK, ATKV, Noordwes-Universiteit en Universiteit van Stellenbosch en word gefinansier deur onder andere die Dagbreek Trust. Die doel van VivA is om digitale hulpbronne en dienste vir Afrikaanse gebruikers in die een-en-twintigste eeu te ontwikkel.

Die Afrikaanse taalkundiges wat as skrywers optree is proff. Jac Conradie (UJ), Ernst Kotzé (NMMU), Haidee Kruger (NWU), Piet Swanepoel (UNISA), Bertus van Rooy (NWU) en Daan Wissing (NWU). Taalkundiges van ander universiteite sal uiteindelik ook optree as moderators, terwyl nagraadse studente ook betrek sal word.

“In 2010 het die Nederlandse regering byna €2 miljoen bewillig vir die ontwikkeling van ʼn vergelykende grammatika van Nederlands en Fries,” het prof. Gerhard van Huyssteen, projekleier van VivA en professor in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit, bygevoeg. “Nadat die SAAWK ʼn samewerkingsooreenkoms met die Meertens Instituut in Nederland onderteken het, is Afrikaans nou ook deel van dié inisiatief.”

“Die projek beloof om ʼn groot inspuiting vir Afrikaanse taalkunde te wees,” het Van Huyssteen gesê. “Ons glo dat die samewerking tussen Nederlanders, Friese en Suid-Afrikaners ook ʼn belangrike impak sal hê op die opleiding van ʼn nuwe generasie taalkundiges. Ons hoop ook dat hierdie projek uiteindelik as model kan dien vir die ontwikkeling van ander Suid-Afrikaanse tale.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Stem heelhartig saam Koos! Elke enkele inisiatief om Afrikaans te bevorder, is ‘n stap in die regte rigting. Wanneer dit uit die buiteland kom, is dit soveel meer werd. Dankie vir die plasing van die berig veral in ‘n tyd wat mens oral moet lees van “Afrikaans bashing” soos op die voorblad van die laaste Rapport. Dis baie bemoedigend.

Sjert ·

In samewerking met die Nederlanders en Friese is die Lewende Taal ten spyte van die Jan Salie’s en Martie Martelgatte, steeds aan’t woeker

Marius Buys ·

Hierdie inisiatief sal ‘n belangrike teenvoeter wees vir die doelgerigte afwatering van Afrikaans in skole deur onderwysres wat nie bevoeg is om die taal te onderwyts nie.

Daar is ‘n daadwerklike terkort van hulpbronne in skole, veral digitaal van aard. Díe karige goed wat wel beskikbaar is, is so vol eensydige propaganda of is bloot heeltemal buite die kinders se verwysingsraamwerk.

Ek sien uit daana om weer vrugte en vreugde aan die boom van Afrikaans te sien bot en bloem!

Wim Putz ·

Goed ! Belangrijk dat Nederland het Afrikaans steun geeft.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.