‘Voorbereide kos is noodsaaklik’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Tanaphong Toochinda/Unsplash.)

Die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand het sterk kritiek uitgespreek teen Lungi Mtshali, woordvoerder van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat meen daar is ’n verbod op die verkoop van gekookte etes.

Dr. Elsha Hermann, ’n maatskaplike werker van Helpende Hand, sê talle bejaardes is afhanklik van afgelewerde voorbereide etes en die minister het hulle die afgelope week in ’n krisis gedompel.

Helpende Hand het reeds gevra dat die minister onmiddellik die verwarrende boodskap oor voorbereide etes moet regstel.

“Klaar gaar, voorbereide etes is ’n noodsaaklike diens wat volgens Helpende Hand aan gemeenskappe moet bly voorsien word. Indien hierdie diens opgeskort word, staan ons die kans dat talle mense nie weens die Covid-19-pandemie nie, maar weens ’n tekort aan voedsel kan sterf,” sê Hermann.

“Voorbereide etes wat deur kettingwinkels en private besighede verkoop word, word dikwels as ʼn luukse gereken. Hierdie etes is egter vir baie mense soos bejaardes, individue en gesinne wat op die broodlyn leef hul enigste, voedsame, gebalanseerde ete wat hulle per dag kan bekostig aangesien daar talle kettingwinkels en ander sakeondernemings is wat bekostigbare warm etes voorsien, ” sê sy.

Hermann verduidelik die aankoop van ’n groot verskeidenheid produkte, en die koste om dit gaar te maak, is vir talle persone wat op die broodlyn leef te duur, en dit is goedkoper om ’n klaar voorbereide, gebalanseerde ete aan te koop. Hierdie diens is dikwels ook so saamgestel dat daar ʼn groter verskeidenheid van voedsel beskikbaar is wat deur die individu gekies kan word.

“Bejaardes wat nog in hul eie huise woon en op hierdie wyse nog selfversorgend is, is dikwels afhanklik van ’n diens wat gekookte etes by hul huise aflewer. Hierdie bejaardes het dikwels nie die fisieke krag nie, of is te siek om onverwerkte voedsel by winkels te gaan koop, dit te verwerk en gaar te maak, en is dus afhanklik van gekookte etes van private ondernemings,” voeg sy by.

“Om dieselfde rede is daar talle bejaardes wat nog die fisieke vermoë het om klaar voorbereide voedsel by kettingwinkels te gaan aankoop, maar hul gesondheid laat dit nie toe om dit self voor te berei nie. Solidariteit Helpende Hand wil egter hierdie bejaardes aanmoedig om nie self aankope te gaan doen nie, maar om eerder ’n vrywilliger van die kerk of ander organisasies te nader om in hierdie krisistyd die aankope te doen,” sluit sy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Carina ·

Ek stem volkome saam. Die virus kan nie versprei word deur gaar kos nie. So hoekom is dit gestop? Baie bejaardes wat nog vir hulself sorg is wel nie meer instaat om self te kook nie, of hulle eet nie meer so voedsaam nie. My suster is semi-gestrem en alhoewel sy op haar eie woon maak sy selde kos. So vir haar is dit idiaal om 2x per week klaar gekookte kos by b.v. Checkers te gaan haal en so het sy ‘n goeie bord kos elke dag. Dit is baie duur om al die bestandele, vars groente, vleis, ens te koop om self te kook. Dit werk definitief baie goedkoper uit om 1x per dag so ‘n gekookte bord kos te gaan haal.

Eugene ·

Ons kan tog seker nie verwag dat sommiges in die regering logiese besluite moet neem. Dlamini. Zuma klink asof sy dof is in haar toesprake

Ben ·

Is daar iemand wat kan verduidelik wat die rede is vir die besluit.
Ai!!!!! Daar moet tog ñ rede voor wees. Dis mos nie logies nie.

AH ·

Daar is so baie goed wat nie sin maak tydens die inperkingstyd nie. Hierdie is ook weer iets wat my laat dink dat besluitnemers so magsbehep is en so magtig voel dat hulle besluite neem wat net hulle kan verstaan sonder om dit te kan regverdig. Daar word glad nie na die groter prentjie gekyk nie. Nog dinge soos hardeware, verf ens wat nie gekoop mag word nie. Nou is immers ‘n tyd wat meeste mense hope tyd het en verveeld raak terwyl daar klomp takies in en om die huis is wat nou gedoen kon word. So kan ek aangaan, maar dit maak my net briesend kwaad dat ons hele regering net daarop uit is om hulself te laat goed lyk en nie regtig omgee vir die massas wat werklike hulp en begrip vir hul situasies nodig het nie!

Abel ·

‘n Mens kan maar net wonder watter geheime aggenda speel ‘n rol in die besluit. Waarskynlik weer ‘n geval van haan op eie mishoop.

Gawie ·

Ek kan op ‘n manier verstaan waar die regulasie vandaan kom – sedert Inperking begin het, het supermarkte warm kos verkoop – onder meer pasteie. Reg oorkant die Checkers naby ons is ‘n King Pie, maar hy mag nie sy pasteie verkoop nie. As ek die eienaar was van daardie King Pie sou ek ook ongelukkig gewees het. Baie restaurante maak voorsiening vir wegneemetes, maar hulle mag dit nie verkoop nie, alhoewel die supermark dit mag doen. Dis ‘n moeilike besluit, want maak nie saak watter kant toe jy gaan nie, iemand gaan ongelukkig wees.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis oor daar te veel “belangrike mense” is wat elk sy of haar eie stukkie van die kollig wil kry. Natuurlik met die gepaardgaaande uitrusting waarvan die koop bedrag waarskynlik ‘n hele aantal gesinne van ‘n ete kon voorsien. Sies.
Dankie Helpende Hand

Willem ·

Baie bly die vrou het nie president geword nie. Dommer gaan jy nie kry nie. Wat is die verskil tussen vars gebakte brood en ander brood

Sonneblomkind ·

Het almal nou die pad verloor…HOE KAN GEKOOKTE GAAR KOS N PROBLEEM WEES. Regtig…is almal besig om mal te raak

Cherokee ·

Laat my toe om die onderwerp vir ‘n oomblik te verander.
Vele dinge wat nou gedoen word sal behoue bly. Mense sal instinktief ruimtes toelaat en nie meer so maklik skouer aan skouer wees nie. Bladskud en omhelsings sal dalk ook nie maklik deel van die kultuur bly nie. Maar wat ek baie graag sou wou sien, is dat kokke, kelners en iedereen wat met die publiek se kos werk, maskers dra. Vergeet vir ‘n oomblik van Covid19.
Kokke maak kos en gesels met die kelners wat die kos dra en almal spoeg dat dit spat terwyl hulle met ander se kos in hul hande of in skinkborde stap. Ek koop nie wegneem etes by oop toonbanke waar kliënte oor die toonbanke leuen en amper hul vingers in die kos druk om te wys wat hulle wil hê. Het al ‘n PnP bestuurder na so toonbank geroep. Mense wat met publieke voedsel werk, moet dit gemaskerd doen. Ag ja,.. mense wat maskers dra ìs mos gemaskerd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.