Voorgestelde Covid-19-regulasies kwel

(Argieffoto: Ronny Hartmann / AFP)

Die DA sê hy verwerp onomwonde die voorgestelde lys van regulasies vir die bestuur van die huidige Covid-19-pandemie wat verlede week in die Staatskoerant gepubliseer is. Volgens dié party plaas hierdie regulasies meer mag in die regering se hande om landsburgers te beheer en strook dit boonop nie met die regulasies van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) nie.

Die jongste voorgestelde regulasies poog om ʼn aantal nuwe beheermaatreëls in te stel, sodra die ramptoestand opgehef word. Van hierdie maatreëls sluit die toesig en beheer van aanmeldbare mediese toestande in, asook die openbaregesondheidsmaatreëls wat by toegangspunte gevolg moet word, die bestuur van menslike oorskot en regulasies met betrekking tot omgewingsgesondheid.

Lede van die publiek het kans tot Vrydag 15 April om kommentaar of vertoë oor die voorgestelde regulasies in te dien.

Volgens Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het hierdie lys voorgestelde regulasies – indien dit aanvaar word – die potensiaal om die regte van pasiënte ernstig aan bande te lê.

“Dit is kommerwekkend dat die regulasies die weg baan vir pasiënte om gedwing te word om hulle aan mediese ondersoeke te onderwerp, wat die verskaffing van enige liggaamlike monster kan insluit,” sê Clarke.

Volgens Clarke poog hierdie regulasies ook om meer mag aan mediese praktisyns (of sodanige persone wat gemagtig is om as praktisyns op te tree) te gee om instruksies of leiding in hierdie verband te gee.

Clarke is ook bekommerd oor die voorstel dat kwarantynfasiliteite gesamentlik bestuur moet word deur die departement van gesondheid, provinsiale departemente van gesondheid, die departement van openbare werke en infrastruktuur asook die munisipaliteite.

“Met die tekort aan verpleegpersoneel en swak toegeruste fasiliteite in ʼn aantal provinsies kan die DA nie sien hoe enige pasiënt in voldoende mediese kwarantyn- of isolasiefasiliteite geakkommodeer sal word nie.”

Die voorgestelde regulasies bepaal ook dat pasiënte, of diegene wat vermoedelik in kontak was met iemand wat positief vir Covid-19 getoets het, hulle slegs mag isoleer indien hulle dit doen in ʼn fasiliteit wat aan die gesondheidsdepartement se kriteria voldoen. Dit sluit in dat die pasiënt ondersteuning van ʼn vriend of familielid het wat kos of medisyne kan aflaai (alternatiewelik gebruik maak van aanlyn inkopies), toegang tot die internet het, ʼn foon het vir daaglikse rapportering van simptome asook ʼn private geneesheer het.

“Dit is dus duidelik dat self-isolasie, ingevolge hierdie konsepregulasies, ʼn duur oefening gaan word, wat ʼn verdere las op veral die armes en kwesbares in die samelewing plaas.”

Clarke sê verder dié streng en permanente regulasies is nie nodig nie, aangesien Covid-19 nie noodwendig endemies vir die samelewing is nie en die WGO dit nie as sodanig verklaar het nie.

Die DA beoog om aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid te skryf sodat hierdie aangeleentheid deur die betrokke kanale in die parlement aangespreek kan word.

Die DA doen ʼn beroep op die publiek om kommentaar oor die voorgestelde regulasies te lewer en só beswaar te maak teen “hierdie poging van staatsbeheer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Swerwer ·

Voor daar nie daadwerklik teen hierdie Huidige ANC Kommunistiese Regering opgetree word nie, gaan ons land Rusland se eweknie word.

KatjieDeKat ·

Rusland se eweknie? We should be so lucky! Rusland is n land wat darem nog Werk. Ek sal n miljoen keer eerder my kanse vat in n Russiese staatshospitaal, bv. Met betrekking tot die artikel: Hierdie voorgestelde maatreels is drakonies en daar is geen gronde vir sulke uitermate beheersug oor mense met n siekte van 99,6 % oorlewingsmate. Absoluut onnodig.

Groen Ghoen ·

Daar word dus ‘n nimmereindigende ramptoestand by die agterdeur ingesleep? Al hoe meer lande skaf alle Covid regulasies af. Wat voer die ANC en sy meelopers in die mou met hierdie sinnelose regulasies?

Pietertjie ·

Die ou spulletjie gaan alles onder die son inspan om hulle mag te behou. Die hele Afrika werk so.

Jacob ·

Praat met die mense wat vir jou werk, jou skoonmaakster, tuinier, ens en waarsku hulle teen hierdie be-oogde menseregtevergrype. Wees ingelig oor die gevare wat dit inhou, nie net in terme van eksperimentele middels wat die regering wil afdwing nie, maar ook in terme van vryhede wat so sal erodeer dat pre-1994 na ‘n “Cloud 9” sal laat lyk.

Laat ons vir eens en vir altyd leer om saam te staan teen ‘n nuwe verdrukking, teen nuwe vorms van pasboeke en paswette.

Karlahari ·

So ten minste 4 departemente gaan nou weer kader pensioen hef.
Watter siektes gaan nog aanmeldbaar word? HIV byvoorbeeld? Mense wat Covid onderlede het, het geen privaatheid, maar dié met strikkie griep het volle mediese privaatheid.
Ek verstaan nie.

Zombie ·

Ja-nee, somige goed is maar moeilik vir sommige van ons om te verstaan.

Johan ·

Om Coetzee aan te haal: “mense het geen regte nie…almal behoort in hul huise toegesluit te word”.

Rooikopheks ·

Waarmee sal hulle nog na vore kom??? Belaglik verby!!!

Renier johannes ·

Alles net mag hulle maak en breek wette soos hulle wil staan saam en moet niks doen wat hulle wil he nie

Frank John ·

Koministe, seker Putin se voorgestelde reëls. Hy sê mos ons government wat hulle moet doen. Het nog altyd en totdat hy uit die weg geruim is sal ons presidensie na hom luister en seker china ook.

Martie ·

Ag red ‘n nasie…. die staat kan nie eers saam met die deptartement van Gesondheid die huidige provinsiale hospitale en klinieke in stand hou nie. Nou wil hulle nog hooi op hul vurk laai?

Johan ·

Net teen hul politieke vyande en wie ookal dom genoeg is (almal van ons) om hul daaraan te steur.

Johan ·

Dit was dan van die begin af die doel, hoekom is mense nou so verbaas. Die booswigte het julle lekker om die bos gelei toe julle in n paniek was. Spesiale dank ook aan die medici vir jul bydrae.

Zombie ·

Nou wat verander dit vir diesulkes wat nie om die bos gelei was nie, hê?

Jacobus ·

Hierdie regulasies is net die voortgang van eet uit die staatskas. Geen ANC politikus of kader amptenaar gee ‘n duit om vir enige mens, buite hulle kring, selfs “our people” se stemme word net gebruik, en verwag dat hul ANC T-hemp tot die volgende verkiesing moet hou.
Ignoreer die regulasies, “our people” doen dit nog heeltyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.