Voorlegging in parlement oor Mededingingwysigingswet

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die Mededingingswysigingswet van 2018 is die nuwe Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB).

Dít is die standpunt van Sakeliga nadat dié sakewaghond vandeesweek ʼn sitting van die portefeuljekomitee vir ekonomiese ontwikkeling bygewoon en ʼn voorlegging in die parlement gedoen het.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, wat die sitting bygewoon het, het sy organisasie se hoofbekommernis gestel: “Die Mededingingswysigingswet van 2018 blaas ras in elke deel van die ekonomie in. Dit stel voor dat ekonomiese handelinge verskillend beoordeel word, afhangende van die ras van partye. Ingevolge die wetsontwerp sal mededingingsowerhede die mandaat hê om pryse, samesmeltings, verkrygings, aankope en ander ekonomiese handelinge verskillend vir swart en wit persone te hanteer, insluitende goedkeur, verwerp, penaliseer of beperk,” het Le Roux gesê.

“Hoewel die wetsontwerp die term ‘histories benadeelde persoon’ gebruik, is die toepaslike maatstaf in wese een van ras. Die wetsontwerp bevat veelvuldige verwysings van hierdie aard, vergeleke met vier voorkomste daarvan in die huidige Mededingingswet.”

Le Roux het na twee klousules in die wetsontwerp verwys: “Klousule 5 verbied firmas, wat geag word dominant te wees, om te vereis dat firmas wat deur swart persone beheer word produkte aan hulle verkoop teen ’n prys wat die vermoë van die verskaffer om sogenaamd doeltreffend deel te neem belemmer. Anders gestel, firmas wat aankope by besighede in swart besit doen, kan die risiko van regsaksie in die gesig staar indien hulle sou probeer om vir laer pryse te onderhandel. Ironies genoeg sal dit nie net mense ontmoedig om sake met besighede in swart besit te doen nie, maar dit sal ook firmas in swart besit aanmoedig om pryse te verhoog – uiteindelik ten koste van verbruikers van alle rasse.”

Hy het gesê Klousule 7 van die wetsontwerp bepaal dat die toetrede tot, deelname aan en uitbreiding van firmas wat deur swart persone beheer of besit word ʼn belangrike oorweging behoort te wees om vrystelling van verbode gedrag ingevolge die Mededingingswet te bepaal.

“Ingevolge hierdie klousule sou iets wat as niemededingend beskou word as ’n wit persoon dit doen, wel aanvaarbaar wees as ’n swart persoon dit doen. Dit is moeilik om te sien hoe sulke rasselektiewe wetgewing versoenbaar met die grondwetlike vereiste van algemeengeldendheid van wetgewing kan wees. Dalk belangriker selfs, sal dit boonop, wanneer potensiële vennote geag word van verskillende rasse te wees, die vertroue en respek wat tussen dié vennote nodig is skade aandoen en organiese ekonomiese normalisering ontwrig.”

Le Roux beklemtoon dat, hoewel die Mededingingswet sedert die aanvaarding daarvan beperkte magte vir diskriminasie op grond van ras bevat het, die wysigingswetsontwerp hierdie oorwegings nou die middelpunt van mededingingsbeleid maak. “Dit is vir my duidelik dat die wetsontwerp doelbewus opgestel is om mededingingswetgewing in ’n SEB-voertuig te omskep. Die resultaat sal natuurlik nie die werklike bemagtiging van swart mense wees nie, maar die bemagtiging van burokrate en groter staatsbeheer oor die ekonomie ten koste van verbruikers, werknemers en beleggers van alle rasgroepe.”

Klik hier om Sakeliga se geskrewe voorlegging aan die portefeuljekomitee te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Paul ·

Ek het nie woorde nie, dalk later vandag as ek tot verhaal gekom het, maar niks moet mens meer in die land verbaas nie, net soos mens dink jy het als gehoor, breek die volgende dag aan. (Gaats en ek sien my koffiebeker is leeg, ek kan nie eens onthou dat ek die koffie gedrink het nie.)

JoeV ·

Dit is nou sowaar ‘n teken van die intelligensie van wat ons veronderstel is om as ‘n regering te sien. Die slegste van dit alles is ons het dit so gewoond geraak dat dit aanvaarbaar is. Dink dit is tyd dat Trump kom kuier, dalk kan ons dit vir hom twiet laat hy sien.

Alida 2 ·

Die probleem is die wette word opgestel deur persone wat geen idee van “Demokrasie”of “Vrye mark” het nie .
Alles word net gedoen vir selfverryking en burokratiese mag.
Hierdie wysings gaan geen een wat in ‘n informele nedersetting woon se lewensstandaard verhoog nie. Gaan net help om die wat reeds baie het nog meer te laat kry.

Willem ·

As die korrupsie uitgeroei is blyk diskriminerende wette oor. As hulle dit nie onwettig doen nie, maak hulle ‘n wet waarbinne hulle kan opereer.

Elize ·

Wanneer gaan die tyd aanbreek dat hierdie wesens nie meer as die benadeeldes of minder bevoorregtes beskou gaan word. Wie het gesê hulle getalle moet so uit die nate bars en dat ander daarvoor moet pa staan en sorg. Ons belastinggeld word aangewend om te sorg.

Francois vRvO ·

Net nog ‘n wet om korupsie te bevorder. Daar is hoewel lankal nie meer plek vir ‘n eerlike besigheidsman in die staat nie. Die Afrika kultuur van besigheid doen sal in elkgeval nooit verander nie , niks het ‘n doel nie , geen waarde vir geld nie , geen produktiewieteit , sinnelose transaksies mors van tyd en geld.
As geld jaag jou enigste doel in die lewe is , sal jy hierdie wette moet onderhou.

Koos ·

Dié regering koppel net mooi aan alles ‘n rassekleur!!!

Dit bevorder rassehaat en is die hoof oorsaak van rassisme in ons land.

Nog erger, hierdie optredes van die regering laat mens wonder of mense van kleur dan so buitensporig hoë mate van beskerming via wetgewing nodig het, om hulle enigsins in staat te stel om mededingend aan ons moderne ekonomie te kan deelneem???

Celtis Africana ·

Alhoewel ek die voorlegging aan die parlement waardeer, is die organisasie gebrandmerk as regsgesind en gaan die pleidooi op dowe ore val.
Die felheid van diskriminerende wetgewing neem onrusbarend toe in banaliteit.
Hierdie voorgestelde wetgewing verdien buitelandse blootstelling.
Ek gee nie om waar jul vir ons n plek kry nie, kry net vir ons selfbeskikking. Ek kan dit langer uithou in die paddabredie nie!
En, n benoude padda maak benoude spronge!

Willem ·

Ons word nou met wetgewing soos wild in reservate reguleer.

Marie Visser ·

Dink president Trump moet van hierdie skelmstreek kennis dra

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.