Voorlopige verslag van #FeesMustFall-kommissie afgehandel

Regter Jonathan Arthur Heher, voorsitter van die kommissie van ondersoek na universiteitsfooie. Foto: ANA

Regter Jonathan Arthur Heher, voorsitter van die kommissie van ondersoek na universiteitsfooie. Foto: ANA

Pres. Jacob Zuma het Donderdag die voorlopige verslag van die kommissie, wat op die been gebring is om die uitvoerbaarheid van gratis tersiêre onderrig in die land te ondersoek, ontvang.

Dr. Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die president, het in ʼn verklaring bevestig Zuma het die verslag ontvang, maar gesê die president sal eers die verslag bestudeer voordat hy sal besluit op die pad vorentoe.

Die kommissie is in Januarie op die been gebring om die moontlikheid van gratis tersiêre onderrig te ondersoek, in reaksie op die #FeesMustFall-betogings wat sedert verlede jaar dwarsoor die land woed. Die kommissie moes aanvanklik hul ondersoek binne agt maande afhandel, maar hierdie sperdatum is later tot 30 Junie 2017 verleng.

Ngqulunga het gesê die verslag wat vandag aan Zuma oorhandig is, bevat die voltooide bevindinge van drie van die agt aspekte wat die kommissie besluit het om te ondersoek. “Volgens die kommissie is hierdie struktuur bepaal nadat dit besef het ʼn behoorlike ondersoek kan nie gedoen word sonder om volle begrip te hê vir die faktore wat hoër onderwys en onderrig in Suid-Afrika beheer en beïnvloed nie,” het Ngqulunga gesê.

Hy het gesê die drie aspekte wat tans in die voorlopige verslag vervat word, is ʼn oorsig van die belanghebbendes by die kommissie se ondersoek, die beskikbare naskoolse onderwys en onderrigkeuses in Suid-Afrika en ʼn uiteensetting van die huidige befondsing en operasionele kostes van instansies van hoër onderwys en onderrig in die land.

Regter Jonathan Arthur Heher, die voorsitter van die kommissie, het vroeër gesê die eerste deel van die kommissie se ondersoek was inleidend en ontwerp om ideologiese en beginselkwessies te ondersoek en ʼn begrip te kry van die werklike probleme in die hoër onderwysstelsel.

Lees alle vorige berigte oor die studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan ·

Jip, en Ramaphosa het ook al klaar sy sê in die parlement gesê. En die mense het vir hom hande geklap. Die realiteit is, geld moet van erns kom, van diesulkes soos hulle en die wat dit kan bekostig.

Lance ·

Gaan hy die verslag verstaan en is hy nie nou te besig om vure te slaan nie …jy weet die man is meer is die hof as op die job …hoe regeer mens n land so en wie het nog respek oor vir n man wat so skelm is …

Hendrik ·

nee wat. oom bles gee nie om wie en wie nie vir respek het al dan nie. hy gee n vlenter om vir die land en sy mense. hy sorg vir homself en sy trawante. ons aanvaar dag ons nie n regering meer het nie.

jaco ·

gratis universiteite het gewerk in Oos-Duitsland en die USSR. Die akademiese standaard was ook baie hoog. Vreemd dat die kommuniste in die ANC soos ons minister van onderwys wegskram van gratis universiteite. hulle is eintlik vrot kommuniste.

Leendert ·

Die verdere vrae wat gevra moet word is, gaan slegs mense wat werklik opgewasse is en op universiteit hoort in aanmerking vir die gratis onderrig kom? Wat gaan die kriteria vir toelating wees? Watter teenprestasie moet daar wees? Mens kan nie verwag dat ander se geld vir hul studies aangewend word, maar dan kerjakker hulle, betoog, brand af, en vat ‘n ewigheid om te studeer nie. Gaan daar sulke voorwaardes wees? Dan ook, gaan hulle net kwytskelding van fooie kry vir daardie vakke wat hulle slaag? En veronderstel hulle kan nie die graad na bv drie jaar voltooi nie, wat dan? Dus is daar klomp ander vrae ook wat mens kan vra. Verseker kan hulle nie net ‘n blanko tjek gegee word nie. Hulle moet daar wees om te swot.

John ·

Regter Heher lyk soos ‘n man by die begrafnis van ‘n eens welaf vriend…

Alida ·

No 1 verstaan nie ‘n enkele woord wat in daardie verslag staan nie. Hy beweer mos dit is hoe demokrasie werk. Hy moet die skade gaan besigtig. Ek is al so moeg vir daardie man en wens hulle wil hom nou verwyder of dwing om te bedank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.