Voormalige ANC-werknemer kry glo steeds salaris in die tronk

Errol Velile Present. Foto: ANA

ʼn Voormalige werknemer van die ANC wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn transitorooftog, het Vrydag aan die Roodepoort-landdroshof vertel dat hy net die helfte van sy salaris ontvang terwyl hy in aanhouding is.

Dít nadat die ANC vroeër gesê het hulle het Errol Velile Present (33) afgedank nadat hy in verband met die misdaad in hegtenis geneem is.

Present was Vrydag met voetboeie in die getuiebank om ter ondersteuning van sy borgtogaansoek te getuig. Hy het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Swaargewapende polisiebeamptes was by die hof te sien.

Present het berugtheid verwerf nadat Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, ʼn verklaring uitgereik het waarin hy die regerende party veroordeel het omdat hulle iemand in diens het wat na bewering geen respek vir die gereg het nie. Present was by die ANC se hoofkantoor as nasionale organiseerder werksaam.

Die ANC het kort daarna gesê Present is afgedank rakende die bewerings dat hy by “gruwelike misdade” betrokke is.

Present is een van vier beskuldigdes in die saak. Hy het saam met sy medebeskuldiges, Zakhele Zondi, Itumeleng Manama en Bheki Biyela, verskyn. Al vier mans staan tereg op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede rakende ʼn transitorooftog wat op 4 Julie in Dobsonville, Soweto, plaasgevind het. ʼn Bedrag van R220 000 is tydens die rooftog gesteel.

Present het Vrydag tydens sy getuienis gesê hy verkies om nie bekend te maak hoeveel hy of sy vrou verdien nie. Die hof het ook gehoor Present betaal R9 500 huur waar hy tans woon.

Hy het aan die hof gesê hy was die dag van sy inhegtenisneming saam met sy vrou op pad na sy oom se huis. Hy het daarna eers sy ma gevra om uit die hof te gaan voordat hy vertel het wat ten tyde van sy inhegtenisneming gebeur het.

“My hande is vasgebind en hulle het my laat plat lê. Hulle het plastiek om my kop gesit en kleefband om my kop gedraai. Daarna het hulle pepersproei gebruik,” het Present gesê.

Hy sê hy het vir die polisiebeamptes gesê hy weet niks van die transitorooftog af nie, maar hulle het aanhou sê hy sal binnekort weet. “Ek kan die beamptes wat my aangerand het uitwys.”

Present beweer sy vrou is ook aangerand.

Hy het gesê daar is geen vingerafdrukke geneem op die voertuie wat die polisie beweer hy en sy medebeskuldigdes tydens die rooftog gebruik het nie. Hy beweer die vier wagte wat beroof is, kon hom ook nie tydens ʼn uitkenningsparade uitwys nie.

Hy het by die hof gepleit om hom op borgtog van R5 000 vry te laat, en gesê hy sal nie met die staat se saak inmeng nie en dat hy nie ʼn vlugrisiko is nie. Hy het gesê hy sal sy sakevennote vra om hom te help met die borgtoggeld.

Toe die hof hom vra hoe sy vrou en kinders oor die weg kom sedert hy in hegtenis geneem is, het Present gesê sy vrou het hulle motor verkoop om vir die kinders se onkostes te betaal.

Die saak is tot 11 September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Ek weet nie of my feite reg is nie, maar is dit nie die man wat n plaas in Limopo vir miljoene rande gekoop het nie?

Mielie ·

Ek glo dis nie net die rooftogte waarby hy betrokke is nie, daar kan ook geldwasery ondersoek word. Die feit dat die ANC so lieg oor sy afdanking beteken vir my dat hulle na die man kyk, ek dink ek weet hoekom…..

Johanna ·

Korrup tot in sy murg en lieg soos ‘n tandetrekker! Gaan die dag ooit aanbreek dat die gemors in hierdie land gaan ophou? Dit is soos ‘n tsunami wat alles verswelg!

Veritas ·

Hy is nie die enigste skuldige in Luthuli huis nie. Hy was net dom genoeg om gevang te word. Dit wil voorkom asof politici, wêreldwyd, slegs daardie beroep gekies het vir die geldmaak geleenthede wat dit bring en die valse gevoel van mag. Ons as die publiek word deur sogenaamde ‘leiers’ aan ons neuse rondgelei. Voorwaar nie baie slim van ons om dit so te aanvaar nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Veritas? Nie net politici nie? Voorspoeds-teoloë ook? En verkeersbeamptes wat omkoopgeld aanvaar? En dwelm-vervaardigers? Genugtig!! Dit wil voorkom asof die HELE wêreld se mense elkeen ‘n beroep gekies het vir die geldmaak geleenthede?? Wat doen jy?

Cherokee ·

Veritas, was jy met verlof? Laaang verlof? Of het jy vir ‘n tyd onder ‘n ander naam geskryf? Lekker om jou terug te sien. :-)

Henk du Toit ·

Mense julle lees alles mis. Onthou dat die waarheid altyd lê in dit wat nie gesê word nie. Met vergunning van die leser sal ek die prentjie probeer skets.
Transito rooftogte raak sit na verkiesings en beleef weer ‘n bloeitydperk in die 18 maande voor verkiesings. Toevallig?
Die ANC kan nie meer staatsinstansies se begrotings plunder om geld te kry vir hulle verkiesingsveldtog nie en Zuma is skatryk terwyl die Guptas intussen landuit is. Toevallig?
‘n Organiseerder (Politieke Kommissar as toesighoudende penningmeester) uit Lethuli huis saam by ‘n transito rooftog? Toevallig?
Dieselfde betrokkene word steeds ruimskoots onderhou wyl hy verhoorafwagtend is. Saamgelees met my vrae hier bo kan enigeen nog vra;”Toevallig?”
Daar is ‘n kousale verband tussen die ANC regime en misdaad want in moord, doodslag, geweld, verkragting, bedrog en diefstal is die party ontvang en gebore. Apartheid en die nalatenskap daarvan lê voosgeslaan aan die skandpaal vir die wereld om te sien en daaragter is dit vir die ANC steeds business as usual.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.