Voormalige bevelvoerder neem haar eie lewe

(Foto: SAPD/Facebook)

’n Voormalige polisiestasiebevelvoerder van Mandeni, KwaZulu-Natal, wat van diefstal aangekla is, het haar eie lewe geneem kort voordat sy in die hof moes verskyn.

Volgens Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), was lt.kol. Mary-Jane Ziningi Zulu (55) veronderstel om Vrydagoggend in die Richardsbaai-handelsmisdaadhof te verskyn op aanklag van diefstal.

Sy sou na verwagting skuldig pleit weens die sterk bewyse teen haar.

“Ons is in kennis gestel dat Zulu net voor die hofsaak haar eie lewe geneem het. Sy het gif gedrink,” het Langa aan Maroela Media bevestig.

“Die prokureurs sal na verwagting op 4 Maart terug wees in die hof om ʼn doodsertifikaat aan die landdros voor te lê en die saak te sluit.”

Langa sê Zulu het na bewering meer as R100 000 uit die polisie se bewysstukke – wat in haar kantoor se kluis toegesluit was – gesteel.

Zulu het in Junie die eerste keer in die hof verskyn, waar sy toe aangekla is van diefstal. Tydens ʼn hofverskyning in Desember het sy aangedui dat sy van plan is om skuldig te pleit.

Zulu word oorleef deur haar twee kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Die saak word gesluit aangesien sy nou dood is, stel n eis teen die boedel en verhaal die verlies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.