Voormalige burgemeester, amptenare moet hof toe vir beweerde bedrog

Argieffoto

Die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad het vyf verdagtes wat verbind word met die plaaslike munisipaliteit in George in die Suid-Kaap gedagvaar om volgende maand in die plaaslike landdroshof te verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Een van dié verdagtes is ʼn voormalige burgemeester van die dorp.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê dié voormalige burgemeester het na bewering werk aan ʼn maatskappy gebied in verband met ʼn beplande rioolprojek lank voordat die projek formeel by die munisipaliteit geregistreer is.

Hy het glo verder met die munisipale bestuurder en ʼn senior personeellid van die munisipaliteit se gemeenskapsdienste-afdeling saamgespan en ander verwante maatskappye aangestel om werk vir die projek genaamd “War on Waste” in 2017 te doen.

“Hierdie diensverskaffers het na bewering betalings ontvang lank voordat die projek formeel geregistreer is of ʼn toekenning van die projekbegroting gemaak is. Sowat R9 miljoen is tussen Mei 2017 en Desember 2017 aan die diensverskaffers betaal.”

Volgens Nkwalase het die amptenare na bewering in ruil hiervoor kontant, vakansieverblyf en skenkings vir skoolgeleenthede ontvang.

Die saak het in 2018 onder die Valke se aandag gekom nadat ʼn bedryfsdirekteur van een van die maatskappye bedrieglike en korrupte gedrag deur die amptenare aangemeld het.

“Die amptenare het na bewering nie meer hul beloftes nagekom nie nadat die verhouding tussen die burgemeester en sy amptenare versuur het.”

Die voormalige burgemeester en die ander vier amptenare, almal tussen 48 en 60 jaar oud, moet luidens die dagvaarding op 9 Oktober vir die eerste keer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Kan net nie julle vingers van die geld af hou nie ne? Mooi geleer by kaders met die voorbeeld wat hulle stel…

Wanneer sit kopdoek en haar kinders nou eendag?

Sarel ·

Wat vsn al die ander korrupte amptenare ,veral hulle agterna bevorder was. Hoekom so selektief

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.