Voormalige burgemeester skuldig aan korrupsie

Jonas White

Jonas White (47), die voormalige burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, is skuldig bevind aan korrupsie van byna ʼn halfmiljoen rand, terwyl hy in sy amp was.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die valke in die Wes-Kaap, het Vrydag gesê White is vandeesweek in die Clanwilliam-streekhof gevonnis.

“White en sy beweerde meisie, Ezelle Bianca Mankay (33), sowel as Philippus Volschenk (56) is in Desember 2013 deur die Valke in hegtenis geneem ná ʼn ondersoek oor korrupsie teen die drie,” het Ramovha gesê.

“Gedurende Oktober en Desember 2011 het White buite die omvang van sy pligte opgetree en amptenare onbehoorlik beïnvloed om drie kontrakte ter waarde van R460 000 aan ʼn maatskappy toe te ken. Die maatskappy, EBM Management, het aan Mankay, sy destydse meisie, behoort. Die sogenaamde maatskappy is betaal om kospakkies aan die munisipaliteit te verskaf, maar het dit nooit gedoen nie.”

Volgens Ramovha het Mankay tydens die saak se verhoor in Oktober 2016 ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Deel van die ooreenkoms was haar bereidwilligheid om teen White te getuig. Sy het gevolglik ʼn drie jaar opgeskorte vonnis ontvang.

Volschenk se saak is teruggetrek ná ʼn suksesvolle voorlegging aan die nasionale direkteur van openbare vervolging.

“White is vandeesweek skuldig bevind en gevonnis nadat ʼn pleitooreenkoms aangegaan is. Hy is gevonnis tot drie jaar tronkstraf, wat opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat hy in dié tydperk nie skuldig bevind word aan enige oortreding wat elemente van oneerlikheid behels nie.”

Brig. Neil Oliver, die waarnemende hoof van die Valke in die provinsie wat die ondersoek gelei het, het die vonnis verwelkom.

“Ons hoop dit dien as ʼn afskrikmiddel vir ander mense in ʼn bevoorregte posisie dat hulle nie die staatshulpbronne kan misbruik en daarmee wegkom nie,” het Oliver gesê.

White is in 2013 ook in omstredenheid gedompel toe hy in Junie uit die ANC geskors is nadat hy onder meer aan seksuele teistering en gereedmaking skuldig bevind is. White het glo sy onderburgemeester, Lorna Scheepers, seksueel geteister. Hy het glo verskeie SMS-boodskappe van ʼn seksuele aard aan Scheepers gestuur, asook foto’s van sy ereksie. White het ook glo SMS-boodskappe van ʼn seksuele aard aan twee meisies, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, gestuur. Hy is verder daaraan skuldig bevind dat hy omkoopgeld van R60 000 van ʼn kontrakteur aanvaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Apache ·

Met al die aanklagte teen hom, nou vra ek hoe kon hy as burgermeester aangestel word?

Lientjie ·

Dit het in sy amps tyd gebeur nie voor die tyd nie. Lees weer.

Cherokee ·

Volgens hierdie berig want geen werklike besonderhede bevat nie, is geld betrokke, R460 000 en alle vonnisse is opgeskort maar die berig skiet kort om te verte of die geld werklik oorbetaal is en indien wel, wat word daarvan. Dit neig te klink na die omruil van byna ‘n ½m Rand vir opgeskorte vonnisse @ ± R100 000 pj.

Nico K ·

So eintlik kom hy niks oor nie. En dit klink nie of enige geld terugbetaal is nie.

Ada ·

Eers as al die vrot appels van die bome afgeval het en verrot het in die grond onder die appelbome – sal dit beter gaan in S A

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.