Armiston “Watty” Watson, voormalige hoofsweep van die Demokratiese Alliansie, is Sondagoggend oorlede.
“Watty was baie lief vir die land en het alles in sy vermoë gedoen om geregtigheid en vooruitgang te verseker vir die mense van sy geliefde provinsie, Mpumalanga en Suid-Afrika,” het Wilmot James, federale voorsitter van die party, in ʼn verklaring gesê.
Watson het vanjaar ná die algemene verkiesing uitgetree. Hy was die leier van die DA in die Nasionale Raad van Provinsies totdat hy as die hoofsweep in die Nasionale Vergadering aangewys is.
Hy laat sy vrou Madeleine, kinders en kleinkinders agter.
Die kantoor van die ANC-hoofsweep het ook sy medelye betoon met Watson se afsterwe.
Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.