Voormalige departementshoof weer in hof vir korrupsie

(Argieffoto ter illustrasie: Kwanalu/Facebook)

ʼn Voormalige hoof van die departement van landbou in KwaZulu-Natal het vandeesweek in die Durbanse handelshof verskyn waar hy saam met ʼn sakeman tereg staan op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Die Valke het Siphiwe Mkhize (60), die voormalige departementshoof, en Billy Mishack Mnisi (47), eienaar van die maatskappy Tekisani (Edms.) Bpk., vroeër in hegtenis geneem.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, het gesê die departement het Tekisani R3,5 miljoen betaal om voer te lewer aan boere in die noorde van KwaZulu-Natal wat onder die droogte gebuk gegaan het. Die voer is na bewering nooit gelewer nie.

Mkhize, as departementshoof, het glo die dokument vir die bewys van lewering geteken en die betaling bevestig.

Mhlongo het gesê die twee is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die saak teen hulle is tot volgende maand uitgestel.

Mkhize is ook in Junie vanjaar daarvan beskuldig dat hy ʼn voertuig ter waarde van meer as ʼn halfmiljoen rand ontvang het van die maatskappy Ikhwezi Protection Services. Die onderneming behoort aan Zwelithini Erick Zondi (49).

Mkhize was glo verantwoordelik vir die maandelikse verlenging van ʼn kontrak wat aan Ikhwezi toegeken is.

Albei mans het in Junie vanjaar in die handelshof vir korrupsie verskyn. Mkhize is destyds op borgtog van R5 000 vrygelaat en borgtog van R10 000 is aan Zondi toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suzette ·

WEER in die Hof – dit wys net – hulle kom niks oor nie en gaan net voort met korrupsie, roof en uitbuiting. Dit is deesdae die inherente vereistes om lid van die parlement te wees.

Wondermaarnet ·

Dit is mos die norm om weer en weer en meer en meer te buit.

Yvonne ·

Die gusigheid van die people gaan my verstand te bowe….wanneer is genoeg dan genoeg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.