Voormalige DG ‘dankbaar’ Van Rooyen kry trekpas as finansminister

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

“Dankie tog dat hy nie lank by die tesourie was nie, want ons sou ernstige probleme gehad het met ʼn minister wat die mening van mense in die straat gevra het oor taxi’s, of wat die regering betreffende ʼn staatsbeheerde onderneming moet doen.

“Eerlikwaar, ek sou ʼn wesenlike probleem gehad het.”

Só het Lungisa Fuzile, ʼn voormalige direkteur-generaal van die tesourie, Dinsdag voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, getuig oor sy gevoel nadat Des van Rooyen ná net vier dae as minister van finansies in die pad gesteek is.

Adv. Thabani Masuku, namens Van Rooyen, het Fuzile Dinsdag in kruisondervraging geneem nadat Fuzile die oudminister vroeër by bewerings van staatskaping betrek het.

Lugisa Fuzile, ‘n voormalige DG van die tesourie, tydens Dinsdag se verrigtinge. (Skermgreep: eNCA)

Fuzile het vroeër getuig Van Rooyen het hom destyds ingelig dat die Gupta-raadgewers, Ian Whitley en Mohamed Bobat, by die departement aangestel moet word.

Hy is vandag hieroor gepols.

Volgens Fuzile het hy Van Rooyen herhaaldelik na die ministeriële handboek rakende die aanstelling van raadgewers verwys. Hy het daarop gewys dat Whitley en Bobat by die departement begin werk het voordat hulle werkskontrakte gehad het. Fuzile het volgehou dat daar niks onregmatig is in die aanstel van ʼn raadgewer nie, maar dat daar spesifieke prosedures gevolg moet word. Volgens hom is dié prosedures nie gevolg nie.

Fuzile het gesê die twee het boonop vertroulike departementele inligting begin versprei voordat hulle formeel aangestel is. Dit was onder meer ʼn verwysing na ʼn voorlegging wat deur die tesourie saamgestel is oor ʼn omkeerplan vir die ekonomie.

Van Rooyen hou vol daar was niks fout om insette van buitestanders daaroor in te win nie en dat dit nie ʼn geklassifiseerde dokument was nie.

Fuzile het heftig daarmee verskil.

“Hier was ons, saam met mense wat geen kontrakte gehad het nie en wat ons kwalik geken het. Ons het in ons harte gevoel die persoon wat hulle betrek het, ken hulle self nie eens so goed nie. Maar ons moes saam met hulle [Bobat en Whitley] werk, want hy [Van Rooyen] het hulle hier aangebring.

“Jy kan nie vir die minister sê omdat jy twyfelagtige mense hierheen gebring het, gaan ons nie saam met jou werk nie. En waarom is hy verwyder? Deels omdat mense besef het dít wat gebeur het, is skokkend en moet gestuit word,” het Fuzile gesê.

Fuzile het Zondo daarna gevra of hy kan huis toe gaan om sy werk te gaan doen.

Van Rooyen getuig na verwagting self ná etenstyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Dat hy kan huistoe gaan en sy werk te gaan doen!!! Rerig?? Dink u regtig ons glo u? Kaders is net pligsgetrou as vir eie sak werk!

Corne123

Kry n span om die zondo te ondersoek want ek dink hulle maak nou lekker geld vir niks wat het hulle al gedoen

JohanR

Glo my my maat, daai rooi mannetjies wat rond hardloop op Mars was dankbaar!

Snowball

En die Zondo sepie draai voort….teen kostes van miljoene en al die niksbeduidende inligting kom so drupsgewys soos een met ‘n prostaatprobleem. Grootste klug onder die son. Twee jaar aan die rol en nog geen vervolging.

Kotze

Sê ASB. VIR MY HOELANK GAAN HIERDIE ZONDO KOMMISSIE NOG BOLLETJIES BAK EN WIE GAAN NOU VERDER BETAAL VIR HIERDIE GEMORS!!!!!!