Voormalige direkteur bedrieg Limpopo-tronk uit miljoene

Argieffoto

Die voormalige adjunkdirekteur van die Kutama Senthumule-gevangenis op Louis Trichardt is vandeesweek in die Makhado-streekhof in Limpopo skuldig bevind aan bedrog en korrupsie. Clement Raphalalani (56) het die gevangenis uit miljoene rande bedrieg.

Die Kutama Senthumule-gevangenis het ʼn verlies van meer as R18 miljoen gely weens Raphalalani se korrupte aktiwiteite.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê Raphalalani het in 2017, as verkrygingsbeampte by die gevangenis, ʼn tender van R2,7 miljoen aan die Penson Manufacturing-maatskappy, wat aan Editha Pengson (57) behoort, toegeken sonder om die nodige prosedure te volg.

“Raphalalani was kop in een mus met Pengson en het met haar onderhandel om die pryse van die items wat haar maatskappy aan die gevangenis sou verskaf, te verhoog. Die ekstra bedrag van R369 380 is toe van Pengson se maatskappy na Raphalalani se maatskappy, Clemson Carriers, oorbetaal,” sê Maluleke.

Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat Raphalalani in dieselfde jaar ook ʼn tweede tender ter waarde van R1 071 831 onregmatig toegeken het aan Vhalenda Zwashu Trading Enterprise, wat aan sy vriendin, Delicia Sadiki (42), behoort.

Daar is vasgestel dat hy nagenoeg R132 500 in Sadiki se persoonlike bankrekening inbetaal het.

Maluleke sê Raphalalani het verder saam met Thabo Makamane (52), nog ʼn adjunkdirekteur by dieselfde gevangenis, ʼn tender ter waarde van R3 588 707 aan Durafoam Distributors CC toegeken – weer eens sonder om die korrekte prosedure te volg. Die tender is aan die maatskappy toegeken in ruil vir betaling van R569 500.

Raphalalani, Makamane, Pengson en Sadiki is in Desember 2018 deur die Valke se ernstige korrupsie-ondersoekeenheid in hegtenis geneem.

Raphalalani is op twee aanklagte van korrupsie en 25 aanklagte van bedrog skuldig bevind, terwyl hy in sy hoedanigheid as eienaar van Clemsons Carriers skuldig bevind is aan een aanklag van korrupsie en tien van bedrog.

Pengson is skuldig bevind op twee aanklagte van korrupsie en 25 van bedrog.

Hulle sal na verwagting op 15 September gevonnis word.

Makamane het onskuldig gepleit en sal na verwagting op 22 Oktober vanjaar in die hof verhoor word. Sadiki verskyn op 15 September in die hof wanneer hy na verwagting ʼn pleitooreenkoms met die staat sal aangaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Sadiki was dan sy vriendin en n sy en nie “hy” nie, of hoe verstaan ek dit dan nou?

Remlut

En intussen leef familie en vriende soos konings en derduisende daarbuite sit sonder kos en werk.

Persheks

Mooi geleer by kaders ne! Hoop die geld word terug betaal met rente. Genade die klomp is omtrent korrup. Dis om van mal te raak

Stofdonkie

Die batebeslagleggingseenheid moes al reeds gaan beslag lê op die bates, teen die tyd dat hulle verhoor word is die bates al alles weg, en die geld mooi veilig weggesteek vir die dag wanneer hy uit die hof of tronk kom.

Jaco

Daar word baie klagtes gemaak. Maar niemand agter trallies.