Voormalige Eskom-baas sterf

Dr. Ian MCRae. (Foto: Eskom)

Eskom se voormalige uitvoerende hoof, dr. Ian MCRae, is vroeg Sondagoggend in die ouderdom van 90 jaar oorlede. Hy was van 1985 tot 1994 aan die stuur van sake by Eskom en ná sy aftrede ʼn stigterslid en die eerste voorsitter van die nasionale energiereguleerder, Nersa.

MCRae het sy loopbaan in 1947 as ʼn 18-jarige vakleerling-ambagsman by die energieverskaffer begin en in 1953 met behulp van ʼn Eskom-beurs ʼn graad in meganiese ingenieurswese verwerf.

Sy merkwaardige visie van “elektrisiteit vir almal” en sy uitmuntende leierskap het gelei tot die bou van al die groot steenkoolkragstasies in die land: Kriel, Matla, Duvha, Tutuka, Lethabo, Mathimba, Kendal en Majuba. Die hidro-elektriese kragstasies Gariep, Vanderkloof en Cahora Bassa in Mosambiek, die omkeerbare pomp-en-stoor-kragstasies, Drakensburg en Palmiet, asook die Koeberg-kernkragstasie is ook aan hom te danke.

“Met sy persoonlike sjarme en integriteit was dr. MCRae ʼn wêreldrolspeler in elektrisiteitsaangeleenthede,” sê Eskom in ʼn huldeblyk op die energievoorsiener se webwerf.

“Die naam Ian MCRae sal altyd sinoniem met Eskom wees. Hy was een van die land se voorste sakeleiers en het aktief daaraan gewerk om elektrisiteit deur middel van nuwe innoverende benaderings na alle Suid-Afrikaners te bring, om energieverskaffing as ʼn agent vir vrede te gebruik en om ʼn produktiewe organisasie te skep wat sy werknemers met respek behandel en ontwikkel.”

Dr. Ian MCRae. (Foto: Eskom)

Dr. MCRae is in 1993 met Suid-Afrika se Orde van Verdienstelikheid (Goudklas) vir sy uitmuntende bydrae tot Suid-Afrika vereer. Dit is een van vele toekennings wat hy oor die jare ontvang het.

Wits het in 1989 ʼn eredoktorsgraad in ingenieurswese aan hom toegeken. Prof. David Glasser, die destydse dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, het gesê MCRae se visie was dat Suider-Afrika ʼn groeisentrum van die wêreld kon word en dat elektrisiteit die potensiaal het om ʼn platform te bied vir die ekonomiese opheffing van nie net Suid-Afrika nie, maar ook sy buurstate.

“Om dit te bereik, ignoreer hy die huidige politieke beperkinge en die weerstand teen die idee van ekonomiese samewerking met state ten noorde van ons grense. Hy gebruik sy ingenieursagtergrond, sy bestuurs- en onderhandelingstalent en die infrastruktuur wat hy by Eskom beskikbaar het om die weg na ʼn geïntegreerde subkontinentale kragnetwerk te skep,” het Glasser in sy motivering vir MCRae se eregraad gesê.

Dr. MCRae was in 1989 in Moskou ook die ondertekenaar van die World Association of Nuclear Operateurs (Wano) se handves waardeur Eskom ʼn volle lid van die organisasie geword het. Hy was later ook vir twee jaar die organisasie se president, asook die voorsitter van die nasionale komitee van die Wêreldenergie-konferensie.

Sy boek, The Test of Leadership, wat handel oor sy 50 jaar in Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsieningsbedryf, is in 2006 uitgegee en het lig gewerp op McRay se sterk- en swakpunte, sy behoefte om ander te dien, asook sy loopbaan by Eskom.

Eskom se huidige uitvoerende hoof, Andre de Ruyter, het MCRae se bydrae tot die Suid-Afrikaanse elektrisiteitsbedryf in ʼn video-huldeblyk as “enorm en transformerend” beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Andre ·

Ons sal die man onthou vir wat wat hy was.KUNDIGHEID wat na 1994 verruil was vir korrupsie en diefstal met die aanstelling van kaders by ESKOM wat nie ‘n benul gehad het van wat aangaan nie.Net GELD was belangrik.Die res was ‘n bysaak want ESKOM het dan so mooi gewerk .Ons salueer jou Ian MCRae.Jy het iets gebou wat gewerk het deur kundigheid.Ongelukkig is dit nou op sy laaste bene danksy die ANC.

Stefan ·

Kon ons maar weer so’n puik hoof by eskom kry wat sy werk kon doen sonder politieke bemoeienisse.

Jack ·

Puik leiers soos Dr McRae is dun gesaai en moet daarom soos goud gewaardeer word. Onder die NP is heelwat sodanige leiers ontwikkel en het hulle reuse bydraes gelewer. Die enigeste iets reusagtig wat die ANC bygedra het is die bedrae wat verduister is.

Stefan ·

Dis moes vir hom verskriklik gewees het om die huidige verval van eskom te aanskou.

Jack ·

Dit is altyd ‘n hartseer saak as iets waardevols waaraan jy jou lewe gewy het deur onbevoegdes afgebreek en vermors word. Skep en opbou is altyd moeiliker en vat langer as afbreek en verniel.

Anel ·

Dink net, as iemand met sy kundigheid nog steeds aan die stuur van Eskom was. Die hele Afrika sou by ons kon krag koop. Nou is die hele Afrika donker.

JohanR ·

1985 tot 1994. Heng toe was daar nog lig(te) elke dag, elke maand elke jaar. En toe kom die ANC! Rus in vrede Dr. Ian MCrae, en dankie.

Scalla ·

RIV, hy het begin as 18 jarige en deur die ranks gegaan, na 1994 is elke comrade met geen ondervinding en kwalifikasie in bestuursposte aangestel wat slegs daar was vir persoonlike verryking en plundering, ons pluk die vrugte vandag met eskom wat ten gronde gegaan het.

Johan ·

Ek hoop hy kry n staats begrafnis vir wat hy vir die land beteken het. Verseker meer as winnie en kie.

Pieter ·

En volgende week blameer die anc hom vir die gemors waarin hulle (anc) ons nou laat sit, en dat hy net vir die wittes kragstasies gebou het. Hy moes mos daai tyd nog 50 kragstasies gebou het wat geen instandhouding nodig het nie.

Jacobus ·

Gee liewer vir hóm ‘n staatsbegrafnis – meer van pas.

Leon ·

Wel, behalwe Afrika wat donker is, Suid Afrika is ook donker. Dinsdag 10 ure beurtkrag gehad. Goeie bewys dat ESKOM uit mekaar val.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.