Voormalige Knysna-burgemeester mag nie terugkeer – hof

Mark Willemse. Foto: Facebook

Die hooggeregshof het Donderdag Mark Willemse se aansoek om terug te keer as burgemeester van Knysna, of ten minste as DA-wyksraadslid vir wyk 9, van die hand gewys. Die Demokratiese Alliansie (DA) het dié besluit verwelkom.

“Nadat Willemse verlede Desember ontslaan is, het die Knysna-munisipaliteit ʼn gebrek aan kontantvloei beleef weens die gebrekkige finansiële bestuur in sy dienstydperk as burgemeester,” sê Dion George, die DA se tesourier.

Hy sê hoewel Willemse nie meer burgemeester is nie, moet hy steeds aanspreeklik gehou word vir die Knysna-munisipaliteit se geleidelike finansiële ineenstorting wat onder sy bewind plaasgevind het.

Volgens die DA het dienslewering en die ekonomie van die stad aansienlik agteruitgegaan vandat Willemse die leisels as burgemeester oorgeneem het. Dit is ook danksy sy swak leierskap, meen die  DA, dat die ANC nou die leierskap van dié gebied oorgeneem het. “Mense sal eerder in eiendom in ander stede belê of selfs verhuis na stede en dorpe wat meer funksionele munisipaliteite het,” het George gesê.

Die provinsiale regering het ʼn ondersoek van stapel gestuur en sal daarna die nodige stappe doen om die munisipaliteit weer terug op die been te bring.

“Die hof se uitspraak is die begin van ʼn nuwe hoofstuk vir die mense van wyk 9 en Knysna. Dit bied ʼn geleentheid vir die mense van Knysna om demokrasie in die stad te herstel en die DA weer aan die stuur van sake te plaas, sodat ons kan regmaak wat Willemse verbrou het,” het George gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.