Voormalige makelaar erken hy het kliënt bedrieg

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Voormalige makelaar, Stephanus Johannes Janse van Rensburg (68), het Dinsdag in die handelshof in Gqeberha (Port Elizabeth) erken dat hy amper R2 miljoen van ’n kliënt gesteel het.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê die staatsaanklaer, Lise Keech, het Janse van Rensburg se skulderkenning aanvaar en landdros Nolitha Bara het Janse van Rensburg skuldig bevind op aanklag van diefstal.

Janse van Rensburg het erken dat hy sowat R 1,8 miljoen van sy kliënt, wyle Esther Freesia Adendorff, gesteel het.

Maroela Media het vroeër berig Janse van Rensburg het Adendorff bedrieg deur haar sover te kry om versekeringspolisse in haar naam uit te neem. Janse van Rensburg het toe dokumente aan haar gegee wat haar eienaarskap van dié polisse bewys en gesê dat die polisse aktief en in haar naam geregistreer is. Dit het egter later geblyk dat die polisse nooit geregistreer is nie.

Adendorff het tussen Julie 2008 en Maart 2015 altesaam R1 874 370 oor 15 betalings aan Janse van Rensburg vir dié polisse gemaak.

Adendorff is in 2015 dood, waarna haar seun, Ralph Adendorff, wat sy as begunstigde gelys het, ʼn opsomming ontvang het van sy ma se beleggings.

Adendorff se seun het eise by die versekeringsmaatskappye Old Mutual en Momentum ingedien waarna die maatskappye bevestig het dat die polisse nié in haar naam geregistreer is nie, hoewel sy in besit was van skriftelike bewyse.

ʼn Saak is in 2017 teen Janse van Rensburg aanhangig gemaak. Hy was in daardie stadium in die tronk vir een van twee soortgelyke bedrogsake waarin hy bejaardes geteiken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Magda ·

Dit maak mens bekommerd. Jy Kan nie eers Meer n Makelaar vertrou nie.

Rian ·

Hulle wil net kommissie verdien en die finansële “raad” is met heuning bedek om jou om die bos te lei.

koos ·

Onthou julle die grapjas Nico Nel wat saam met PG en kie op Maak ‘n Las verskyn het? Selle storie….nee wat, CFP agter jou naam beteken vir my net mooi niks. Ek het dit persoonlik ervaar met die slegte raad wat Mister Bigshot CFP aan ons wou gee met my vrou se pensioenbewaringsfonds.

Wielspore ·

Ons het amper ook in so ‘n strik getrap by ‘n makelaar in Nelspruit, hy het gewerk as agent vir ‘n bekende lewensversekerings maatskappy. Toe ons hom uitvang en konfronteer lieg hy en sy sekeretaresse ewe veel. Selfs die area bestuurder van die versekerings maatskappy het geen hulp aangebied. Ons het gelukkig voor enige oorbetalings gedoen is, agter gekom daar is ‘n slang in die gras.
Ouer mense is baie vatbaar vir sulke streke en die kinders moet liewers hulle ouers bystaan met sulke groot besluite. Ek hoop Stephanus Johannes Janse van Rensburg kry ‘n sel langs Zuma, hulle het heelwat gemeenskaplike goed om oor te gesels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.