Voormalige makelaar bedrieg glo bejaardes

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

Stephanus Johannes Janse van Rensburg het Dinsdag op aanklag van versekeringsbedrog in die handelshof in Port Elizabeth in die Oos-Kaap verskyn nadat hy hom vroeër die dag aan die Valke oorgegee het.

Janse van Rensburg (69) word aangekla van versekeringsbedrog ter waarde van R 1 874 370 wat voortspruit uit 15 betalings.

Daar word beweer dat dié voormalige makelaar ene wyle mev. Adendorff bedrieg het deur haar sover te kry om versekeringspolisse in haar naam uit te neem. Janse van Rensburg het glo toe dokumente aan haar gegee wat haar eienaarskap van dié polisse bewys en getuig dat die polisse aktief en in haar naam geregistreer was. Dit het egter later geblyk dat die polisse nooit geregistreer is nie.

Adendorff is in 2015 dood, waarna haar seun Ralph Adendorff, wat sy as begunstigde gelys het, ʼn opsomming ontvang het van sy ma se beleggings. Die beleggings het tussen Julie 2008 en Maart 2015 gestrek.

Adendorff het eise by die versekeringsmaatskappye Old Mutual en Momentum ingedien waarna die maatskappye bevestig het dat die polisse nié in die naam van die oorledene geregistreer is nie, hoewel sy in besit was van dokumentêre bewyse.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê ’n saak is in 2017 teen Janse Van Rensburg aanhangig gemaak. Hy was in dié stadium in die tronk weens een van twee soortgelyke bedrogsake waarin hy bejaardes geteiken het.

Hy is in een saak tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis met die alternatief van ’n boete wat hy toe betaal het. Janse van Rensburg is toe ook tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir die ander misdryf, waarvan vyf jaar oor ʼn tydperk van vyf jaar opgeskort is, met streng voorwaardes. Hy is egter intussen vrygelaat nadat hy ʼn presidentskwytskelding ontvang het.

Janse van Rensburg sal na verwagting vandag aansoek om borgtog doen in die jongste saak teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Sal graag wil weet op watter gronde het die ou
” Presidents vrystelling” gekry.

Tipper

So ja, lig hom uit.

LYDIA

Leer mense nooit!!