Voormalige Mej. SA se man (52) sterf

Vanessa Carreira-Coutroulis en haar man, Chris. Hy is Dinsdag in die ouderdom van 52 oorlede. (Foto: Instagram/Vanessa Carreira)

Chris Coutroulis, eggenoot van die voormalige Mej. Suid-Afrika, Vanessa Carreira-Coutroulis, het Dinsdag in die ouderdom van 52 gesterf.

Verskeie nuusbronne berig dat Coutroulis ná ʼn lang siekbed oorlede is. Coutroulis was bekend as sakeman en het ʼn rits bekende nagklubs, onder meer Taboo in Sandton en The VIP Room, geopen. Hy en sy vrou was ook die eienaars van nagklubs soos Boa, Cocoon en Onyx.

Medelye en huldeblyke het intussen vir Coutroulis op sosiale media ingestroom. Nicky van der Walt, ʼn hegte vriend van Coutroulis, en sy vrou, die model en voormalige Mej. SA-finalis Lee-Ann Liebenberg, het albei lang huldeblyke aan Coutroulis gelewer op Instagram.

“Vandag is seker die moeilikste en hartseerste dag van my lewe. Ons het ʼn vriend, ʼn broer, ʼn pa en ʼn eggenoot verloor. Jy was ʼn reus tussen mans, ʼn gentleman, ʼn legende. Jy het die dapperste en moeilikste stryd gevoer vir jou familie soos ʼn leeu,” het Van der Walt geskryf.

“Daar sal nie ʼn dag verby gaan wat ons jou nie sal mis nie, Chris. Jy was een van my beste vriende, ʼn mentor en ʼn broer. Jy was goed en vrygewig met almal rondom jou. Jy was gaaf met my en hard op my wanneer dit nodig was en het my baie geleer. Lesse wat ek vir die res van my lewe sal koester. Jy was ʼn ongelooflike pa en eggenoot, iemand na wie ons almal opgekyk het.”

Fikile Mbalula, die Suid-Afrikaanse minister van vervoer, asook die platejoggies DJ Franky, Warras en DJ Dimplez, en die radio- en televisieaanbieder Jennifer Su het ook almal roerende huldeblyke aan Coutroulis gelewer.

Coutroulis en Carreira-Coutroulis (38), wat in 2001 die Mej. SA-kroon gedra het, is op 27 Julie 2004 getroud en het vier kinders, onder wie ʼn drieling.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.