Voormalige munisipale amptenare strafregtelik aangekla

Die Dipaleseng- plaaslike munisipaliteit. (Foto: Facebook)

Die raad van die Dipaleseng- plaaslike munisipaliteit in Mpumalanga het eindelik strafregtelike klagte teen voormalige amptenare van dié munisipaliteit by die polisie ingedien.

Dié stap volg 204 dae nadat ʼn artikel 106-ondersoek in terme van die Munisipale Stelselswet talle ongerymdhede in die munisipaliteit, wat Balfour, Greylingstad en Grootvlei insluit, uitgewys het. Dit sluit in die onreëlmatige betaling van R53,8 miljoen aan sewe maatskappye.

Busisiwe Shiba, voormalige LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in Mpumalanga, het die ondersoek aangevra ná beweerde onreëlmatighede met die toeken van tenders en administratiewe foute waaronder foutiewe salarisuitbetalings.

’n Verslag met bevindings is in Februarie tydens ʼn raadsvergadering aan raadslede verskaf, maar is ná die vergadering glo weer teruggeneem.

Carel Pienaar, plaaslike VF Plus-raadslid, sê nou dit blyk dat die ANC-beheerde munisipaliteit dié verslag probeer stuit het en vir maande nie een van die verslag se aanbevelings uitgevoer het nie.

Volgens Pienaar het die VF Plus die afgelope ses maande aanhoudende druk op die raad geplaas om teen die voormalige amptenare op te tree en selfs die Openbare Beskermer (OB) genader om die saak te ondersoek.

Die party sal nou seker maak dat die klagte wel opgevolg en ondersoek word. “Daar moet ook seker gemaak word dat die interne dissiplinêre stappe en die aanbevelings van die verslag ten volle ingestel word,” sê Pienaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.