Voormalige munisipale bestuurder skuldig aan korrupsie

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Drie persone van Karoo Hoogland-munisipaliteit in die Noord-Kaap, insluitend die bestuurder en hoof finansiële beampte, is skuldig bevind op aanklag van korrupsie en geldwassery.

Die munisipale bestuurder Louis Nothnagel (55), hoof finansiële beampte Marius Botha (53) en Ockert Tobias Cloete (65) is in die Williston-streekshof skuldig bevind op nege aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en oortreding van artikel 173(1) van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, het kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê. Die persone het elkeen R10 000 betaal as verlenging van hul borg ná hul skuldigbevinding.

“Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat Botha en sy vriend Cloete, wat homself as ʼn maatskappy-eienaar voorgedoen het, saamgespan het. Die ‘maatskappy’ het onbehoorlike betalings ontvang vir die aflewering en installasie van 600 sonkraggeysers (100L laedruk) aan die gemeenskap in Williston,” het Nkwalase bygevoeg.

Die transaksies het tussen Julie 2011 en April 2012 plaasgevind, voor die diens gelewer is. Altesaam R217 152-52 is aan die ongeregistreerde maatskappy oorbetaal in vier verskillende transaksies. “Die huishoudings is aanvanklik vooruit gefaktureer vir die installasie en die geld is later terugbetaal. Die geyser-installasieprogram is later deur Sun Power behartig teen ʼn koste van R5,1 miljoen wat betaal is uit kortingsbedrae van Eskom. Die rol van die Karoo Hoogland-munisipaliteit was slegs om die proses te fasiliteer.”

Die Valke se ondersoek het ook aan die lig gebring dat die voorgeskrewe aanskaffingsproses, om ʼn diensverskaffer aan te stel, nie gevolg is nie. “Die voormalige munisipale bestuurder is aangekla dat hy versuim het om ongemagtigde verkwistende uitgawes te voorkom en dat hy versuim het om redelike stappe te doen om korrupsie te verhoed.

Die drie mans moet op 28 Augustus weer in die hof verskyn vir hul vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaco ·

Tog jammer dat so iets gebeur. Hoekom is oneerlikheid so algemeen?

HH ·

Die laaste woorde is nog nie oor hierdie saak gespreek nie. Daar is geen twyfel dat die Appélhof anders gaan beslis nie,

Ek hoop nie ·

Ek hoop nie dat jy sê dat hul nie skuldig is nie, hoogs onwaarskynlik, in vandag se tyd wat jy met, ag ek is sorry wegkom, is jy skuldig .

Justice ·

HH en daarna volg die Konstisionele hof – Streeks en Hooggeregshofbeslissings is nie meer wat dit was nie. Dit is waarom dat hofsake so ontsettend duur en tydrowend is met elke hof wat `n ander beslissing het. Dit is waarom skelmstreke letterlik floreer in Suid Afrika.

o ·

Is dieselfde werk wat eers R217 152.52 gekos het, later vir R5.1 miljoen gedoen? Is al die regte prosedures gevolg gedurende die 2de rondte? Alles klink nie vir my heeltemal reg nie. So moeg vir korrupsie. Ons hou net aan betaal en betaal en ander skep en skep.

cor ·

Ai om jou hele toekoms en alles wat jy in jou leeftyd opgebou het vir ‘n skamele R217152.52 op te offer, dit was nou nie baie slim gewees nie. As jy wil bedrog pleeg maak dit die moeite werd so R200 miljard plus. Seker het hulle ook geredeneer soos daai ou van die weermag in Mapumalanga as die ouens boontoe dit kan doen hoekom nie ek ook nie.

Tannie ·

Dit word 3x herhaal in die Bybel (Mattheus 19 vers 24, Markus 10 vers 25, Lukas 18 vers 25):

Dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan, as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.

Bokkie ·

Wat is die spreekwoord: ‘If you can’t beat ‘them’, join them!!

johanna ·

Wat net sleg is dat `n arm wordende gemeenskap so behandel word. Ons kan maar sukkel om mas op te kom terwyl ander ouens skep en ons betaal. Kyk hierdie munisipaliteit se elektrisiteit is hoogste in land.

RT ·

Dit is altyd interessant dat mense wat nie die saak gevolg het nie, strawwe kritiek lewer. Die verslag is so vol foute, blykbaar verskaf deur die Valke. Die voormalige MM is nie skuldig bevind vir bogemoemde nie. Die agtergeblewenes stort warm vanaand aangsien hul die geysers gekry het wat mnr Cloete opgesit het. Die R5miljoen storie is n nuwe onbekende versinsel. Ek vat elk geval alle berigte wat die Valke se lof besing met n knippie sout.
Genoemde Johanna kan maar hier in Kby kom kyk … ons en BWes se krag is duurder as KHM s’n.
Ek dink die media moet die korrekte feite by howe verkry voor hul mense se lewens verwoes, dit oor die radio, TV uitsaai en in koerante en ander media plaas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.