Voormalige Nyda-hoof kry borg

images (4)Die voormalige hoof van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA), Andile Lungisa, is op borgtog vrygelaat nadat hy in die gespesialiseerde handelshof verskyn het op aanklag van bedrog van R2,5 miljoen.

Lungisa het saam met Thabo Shogolo, Xolisile Guquza en Ursula Sali in die hof verskyn. Die aanklagte hou verband met R2,5 miljoen wat die departement van kuns en kultuur vir ‘n konsert tydens die Nelson Mandela-sportdag betaal het. Die vier het glo beloof dat die Amerikaanse sanger R Kelly by die konsert sou optree maar hy het nie. Lungisa en sy medebeskuldigdes het hulself Vrydag aan die Valke oorgegee. Lungisa en Shogolo is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat, Guquza op borgtog van R5 000 en Sali op ʼn waarskuwing. Hulle is beveel om hul paspoorte in te handig en nie met die staat se getuies kontak te maak nie. Die saak is tot 30 Oktober uitgestel.

Thabo Kwinana, Lungisa se regsverteenwoordiger, het buite die hof gesê daar was politieke inmenging in die saak. “Al wat ek sê is dat daar druk op die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag geplaas is om teen die beskuldigdes in ʼn siviele saak op te tree en het dit na ʼn kriminele saak verander.” Hy sê ʼn minister, wie se naam hy nie wou bekend maak nie, het verslaggewers deur middel van teksboodskappe ingelig om in die hof te wees vir die saak. Lungisa het die minister as Fikile Mbalula, minister van sport, geïdentifiseer en hom daarvan beskuldig dat hy die verdediging beveel het om borg teen te staan. Hy beweer Mabalula het ʼn vendetta teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.