Voormalige OBK-hoof onskuldig in interne ondersoek

Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die OBK. Foto: PIC

Lufuno Nemagovhani, die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se uitvoerende hoof van interne oudit, het Woensdag aan die kommissie van ondersoek na dié instelling gesê dat geen bewyse van onregmatige optrede gevind is toe die voormalige OBK-hoof Dan Matjila verlede jaar daarvoor ondersoek is nie.

Die saak het verband gehou met ʼn lening aan Maison Holdings (MST) en geldelike bystand aan Matjila se vermeende meisie, Pretty Louw. Sy was die eienaar van MST.

Adv. Jannie Lubbe SC, wat die getuienis gelei het, het gevra Nemagovhani moet verduidelik hoe die interne oudit die bewerings teen die voormalige OBK-hoof hanteer het in verhouding tot die aantygings wat “wye mediadekking geniet het”.

“Daar was ʼn volledige ondersoek na my kollega [Geoff] Budlender SC met die verslag rakende dié saak. Ek wil net hê jy moet vinnig daarna verwys en vir die kommissie vertel van u betrokkenheid by dié saak,” het Lubbe vir Nemagovhani tydens die openbare verhoor in Pretoria gevra.

“As ek u reg verstaan, was die bewering oor die MST-finansiering dat daar absoluut geen gronde vir die aantyging was nie. Is dit korrek?”

Nemagovhani het reageer: “Ja, volgens dié bewering het die OBK die KMB-[korporatiewe, maatskaplike beleggings]geld gebruik om die vermeende meisie te finansier. Volgens die bewering was die bedrag R21 miljoen of R23 miljoen.

“Tydens ons assessering, tydens die werk waartoe die raad ons opdrag gegee het, was daar geen KMB-finansiering aan die vermeende meisie of MST ten bedrae van R21 miljoen nie.

Daar was ook KMB-finansiering van R5 miljoen wat aan MST gegee is.

“Daar was ʼn lening onder bates onder belegging wat aan MST toegestaan is van R21 miljoen. Daar was ook KMB-finansiering van R5 miljoen wat aan MST gegee is.”

Gill Marcus, ʼn kommissielid en voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het gevra of die lening gediens word.

Nemagovhani het geantwoord dat tydens die tydperk waarin hulle die werk verrig het waartoe hulle opdrag gekry het, die lening gediens is.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 1 Oktober verlede jaar aangekondig dat hy ʼn kommissie van ondersoek aangestel het om die OBK te ondersoek. Hy het die kommissie ses maande gegun om sy ondersoek af te handel.

Die OBK, Afrika se grootste batebestuurder wat amper R2 biljoen (“trillion”) se staatspensioen- en ander fondse bestuur, loop geruime tyd deur onder aantygings van ongerymdhede teen sy direkteure met betrekking tot sommige van sy beleggingsbesluite.

Die kommissie staan onder leiding van die afgetrede appèlhofregter Lex Mpati, bygestaan deur Marcus en die veteraanbatebestuurder Emmanuel Lediga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.