Voormalige Paralimpiese swemmer in koma

Die voormalige Paralimpiese swemmer Achmat Hassiem. (Foto: Twitter)

Achmat Hassiem, die voormalige Paralimpiese swemmer wat jare gelede ʼn haai-aanval oorleef het, is in ’n koma nadat hy ’n operasie ondergaan het.

Hassiem se alma mater, Bergvliet High School, het dié nuus in ’n Facebook-plasing bekend gemaak en oudleerlinge gevra om Hassiem en sy familie in gebed op te dra.

“Hy het ons gebede nodig om sy grootste uitdaging nog te oorkom. Ons glo dat die krag van gebed hom uit die koma sal bring sodat sy pad na herstel kan begin.”

Volgens ’n plasing deur Cape Town Aquatics veg Hassiem tans om sy lewe in die hospitaal.

Dit is nie duidelik watter soort operasie Hassiem ondergaan het nie.

Hassiem het sy regterbeen in 2006 verloor toe hy en sy boetie deur ’n grootwithaai in die water in Muizenberg, Kaapstad, aangeval is.

Hassiem het in 2012 ’n brons medalje op die Paralimpiese Spele in Londen verower en sy land by die Spele in Beijing en Rio verteenwoordig.

Hy het egter in 2016 ná die Paralimpiese Spele in Rio as professionele swemmer uitgetree en hom intussen vir bewaring van mariene lewe beywer, onder meer die bewaring van bedreigde haaispesies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan Achmad en sy gesin. Mag hy uit die koma kom, en heeltemal gesond word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.