Voormalige PE amptenare in hof oor ‘skelm’ tender

(Argieffoto)

Vyf voormalige munisipale amptenare, drie direkteure van ’n maatskappy en drie regspersone sou Donderdag in ’n hof in Gqeberha (Port Elizabeth) verskyn het in verband met ’n beweerde onreëlmatige tender.

Die betrokke tenderkontrak het glo daartoe gelei dat die Nelson Mandelabaai-metro uit R26 miljoen bedrieg is. Selfs interns het na bewering munt geslaan uit die kontrak.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê die metro se direktoraat vir openbare gesondheid het in 2014 glo ’n tender aan die diensverskaffer Milongani Eco Consulting CC toegeken om ’n omgewingsimpak-assessering te doen.

Verskeie ongerymdhede in verband met die betrokke kontrak het intussen aan die lig gekom.

Die Nelson Mandelabaai-metro het na bewering binne 24 uur ná die ondertekening van die kontrak ʼn faktuur van R1 miljoen ingedien en betaal. Daar word voorts beweer dat talle ander betalings gemaak is vir dienste wat nooit gelewer is nie.

“Daar word gesê dat selfs interns met verstrykte kontrakte in die munisipaliteit op dié manier betaal is,” sê Mgolodela.

Die verdagtes staan nou tereg op aanklag van korrupsie, bedrog en geldwassery.

Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, provinsiale hoof van die georganiseerde misdaadeenheid, het intussen die vervolging van nog vermeende korrupte munisipale amptenare verwelkom.

Ngwenya meen verkwiste fondse kan eerder gebruik word om projekte op die been bring wat die hoë werkloosheidsyfer kan hokslaan en kos op die borde van minderbevoorregtes plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

“Ngwenya meen verkwiste fondse kan eerder gebruik word om projekte op die been bring wat die hoë werkloosheidsyfer kan hokslaan en kos op die borde van minderbevoorregtes plaas.” Meneer, hulle gee nie om vir hulle medemens nie. Waar BEE trawante toegang tot fondse het kan mens amper met sekerheid se dat korrupsie op die tafel is.

Staal ·

Ag nee, die woord ” intern” is Engels. Asseblief, gebruik Afrikaanse woorde. Ons is besig om ons taal te verbaster. In Afrikaans sê ons iemand is besig met sy internerskap – Engels – internship. Dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.