Voormalige polisieman met onwettige wapens betrap

Gesteelde polisie-uniforms. (Foto: Verskaf)

ʼn Voormalige polisieman en ʼn administratiewe klerk in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is Woensdagaand in Khayelitsha in die Wes-Kaap in hegtenis geneem, nadat onwettige vuurwapens en ammunisie in hul besit gevind is.

Volgens brig. Novela Potelwa, woordvoerder vir die Valke, is ses onwettige wapens, groot hoeveelhede ammunisie en polisieuniforms in die verdagtes se besit aangetref. Die twee is aanvanklik tydens ʼn stop-en-soek-operasie in Harare, Khayelitsha, voorgekeer en hul motor deursoek.

“Lede van die polisie het op een ongelisensieerde wapen afgekom. Verdere ondersoek het die polisie na die verdagtes se huis ʼn ent verder gelei, waar hulle op nog vyf wapens en die res van die buit afgekom het. Twee ander verdagtes is ook by die huis aangetref en in hegtenis geneem,” het Potelwa gesê.

Die polisie het beslag gelê op altesaam vier pistole, ʼn jaggeweer en ʼn haelgeweer, twee nagemaakte vuurwapens, asook herlaaitoerusting en patroondoppies.

Die verdagtes, almal tussen 23 en 26 jaar oud, sal Vrydag in die hof verskyn op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Potelwa sê nog klagte kan bygevoeg word namate die ondersoek vorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hennie J ·

Goeie werk SAPD lede ; Dit is seker moeilik om een van jou eie toe te kap, maar ek lig my hoed vir julle!! Die oorsprong van die wapens en hoe dit in die beskuldigdes se besit gekom het sal seker n “staatsgeheim” bly ten einde die werklike baasbrein/e te beskerm tesame met die senior beamptes wat te lui was om hulle oorsig take te vervul.

Dawie ·

En dan wil hulle he die publiek moet hulle vuurwapens in handig..

Grassie ·

MM – daar bestaan nie iets soos “koeëldoppies” nie, dit is patroondoppies. Ook nie ‘n “geweerlaaier” nie, daar word waarskynlik verwys na herlaaitoerusting.

Elaine Krige ·

Baie dankie vir die wenk Grassie. Ons het dienooreenkomstig verander.
Dankie! Groetnis
Elaine
nms Maroela Media

Saartjievandiebosveld ·

Dit is wat met vuurwapens gedoen word…Nadal jy dit by die polisie ingee….

Jan Nel ·

As ek na die beskrywing kyk, is dit waarskynlik wapens wat in die amnestie-periode ingegee is.

Dup ·

Is meer kriminele polisielede of is meer polisielede kriminele…?
Dit hou net nie op nie.Hoe kan die publiek dan nog die SAPS vertrou?

Alet ·

Lekker grinnik ek nou. Jip dis daai lekker gewere wat ingegee is by die polisie. Pateties…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.