Voormalige Prasa-raad wil Zondo-verslag laat hersien

Lucky Montana, die voormalige uitvoerende hoof van Prasa. (Foto: Twitter)

Vyf voormalige Prasa-raadslede vaar in ʼn verklaring uit teen die Zondo-kommissie na staatskaping en sê die passasierspooragentskap was nog nooit so suksesvol soos onder hul bestuur nie.

Sfiso Buthelezi, voormalige Prasa-voorsitter, dr. Bridgete Gasa-Toboti, voormalige voorsitter van die raad se komitee oor finansies, kapitale belegging en verkryging, Mmatebogo Nkoenyane, ʼn voormalige lid van dié komitee, Nkosinathi Kwena, ʼn voormalige lid van die oudit- en risikobestuurskomitee, en Lucky Montana, voormalige groephoof van Prasa, het hofstukke by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien vir ʼn hersiening oor die bevindings wat die Zondo-kommissie in sy finale verslag gemaak het.

Buthelezi het die beëdigde verklaring vir die hersieningsaansoek namens die groep afgelê en tree as hul woordvoerder op.

Die vyf voer aan die bevindings in die Zondo-verslag kan op verskeie gronde hersien word. Dit sluit in die “selektiewe toepassing” van die kommissie se reëls en regulasies, verkeerde feite, ʼn verontagsaming van bewyse en die feit dat regter Raymond Zondo op ongetoetste inligting gesteun het.

“Ons is verbaas dat regter Zondo in sy finale verslag by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanbeveel het dat moontlike vervolging teen sekere direkteure vir oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) aanbeveel word. Daar is geen bewyse van ʼn skending hiervan deur die raad nie,” lui die groep se verklaring.

Om sake te vererger, sê hulle, beveel Zondo aan dat sommige direkteure se vervolging oorweeg word, maar nie ander nie.

“Daar is geen grondslag vir regter Zondo se aanbeveling van selektiewe vervolging en die weglaat van ander nie.”

Hulle sê ook Zondo het nooit na die raad se prestasie gekyk nie, maar maak nietemin negatiewe bevindings teen hulle.

“Ons verklaar dat ons die suksesvolste raad sedert die stigting van Prasa in Maart 2009 is. Ons het Prasa nie net as ʼn nuwe openbare entiteit gebou nie, maar ook die inwerkingstelling van ʼn ambisieuse program bestuur om passasierspoorweë in ons land te moderniseer en bus- en treindienste aan burgers uit te brei.

“Ons is trots op ons bydrae.”

Volgens die vyf het Prasa gedurende hul termyn ook:

  • gemiddeld 541 miljoen passasiersreise per jaar onderneem, terwyl dit nou op sowat 20 miljoen per jaar staan,
  • gemiddelde kapitale besteding van 92% gehandhaaf, terwyl dit tydens die termyn van Popo Molefe en Khanyisile Kweyama tot minder as 20% gedaal het,
  • meer as R3,8 miljard (regeringsubsidie uitgesluit) in 2014 ingevorder, terwyl dit onder die rade ná hulle tot sowat R1,6 miljard gedaal het,
  • ʼn moltreinstasie gebou om Inanda, Ntuzuma en KwaMashu te bedien,
  • spoorlyne verdubbel en ʼn nuwe stasie in Mamelodi gebou,
  • nuwe stasies vir die wêreldbekersokkertoernooi gebou,
  • die hoogste bedryfsveiligheid gehandhaaf.

Die groep sê in daardie tyd het Prasa ongekwalifiseerde ouditverslae van die ouditeur-generaal ontvang.

“Die feite spreek vanself. Die prentjie wat deur die finale verslag geskets word, dat Prasa tydens ons termyn ʼn mislukte openbare instelling was, word nie deur feite ondersteun nie. Die leuens sal nie onbetwis gelaat word nie.”

Die vyf pak die skuld vir die ineenstorting van Prasa op onder andere Popo Molefe en sê dit is vreemd dat die bewerings wat teen Molefe gemaak is, nie in die finale Zondo-verslag ingesluit is nie.

Montana het vroeër al gesê dat hy strafregtelike klagte teen Zondo aanhangig wil maak en het aangevoer die bevindings in die verslag is vooraf bepaal.

Die Zondo-verslag stippel in fyn besonderhede uit hoe Prasa oor die afgelope dekade toegelaat is om byna heeltemal in duie te stort. Zondo het ook bevind dat die instelling inderdaad die slagoffer van staatskaping was.

Montana is as ʼn sleutelrolspeler hierin genoem, deurdat hy onder meer besluit het watter diensverskaffers sekere groot tenders sou kry.

Zondo het aanbeveel dat die polisie Montana ondersoek vir sy rol in die toekenning van ʼn kontrak vir lokomotiewe, asook vir verskeie groot eiendomstransaksies.

Montana is ook gekap as ʼn onbehulpsame getuie, omdat hy geweier het om verklarings met sy reaksie op die bewyse teen hom in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sobymykoolkop ·

By hulle groot vriend Zuma geleer. Prasa leeg getender vir hulle vriende/familie/ kamerade.

Rocco ·

Lucky Montana, wat van die huis wat deur Mario Ferreira vir jou gekoop is, vir tenders van Prasa af?

Misky ·

“……. nog nooit so suksesvol nie!!” Die ou ly aan ‘n erge steurnis.

Lag mens of huil jy?

Strandloper ·

Nie meer so lucky nie…benoude kaders maak benoude spronge.

Vincent ·

“PRASA suksesvol onder hul bestuur”. Wat rook die skelm narre??

Bertie ·

Hierdie mense se arrogansie ken geen einde nie! Altyd onskuldig, al word hulle op heterdaad betrap.

Jacobus ·

Daar is eenvoudig geen perke aan die arrogansie van hierdie skelms nie. Kla hulle aan dan kan hulle in n hof hulle onskuld bewys.

Casper ·

Ja nee kyk,hoekom bewys hulle dan nie hulle onskuld nie.Ek glo regter Zondo is ‘n man van inbors en integriteit.Kla hulle aan dan sal hulle,hulle dag in die hof kry.Pay back the money.

christo ·

Nog ‘n Stalingrad tegniek, en ons weet waar kom dié styl van.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.