Voormalige prokureur gevonnis ná bedrog

Argieffoto

Jacobus Samuel Gous, ʼn 44-jarige prokureur van Bloemfontein, is Woensdag gevonnis nadat hy skuldig bevind is op twee aanklagte van bedrog.

Gous is tot 30 maande tronkstraf gevonnis nadat hy in November 2010 Mmamakgetha Seseane met R100 000 bedrieg het, het Phaladi Shuping, streekswoordvoerder van die direktoraat vir openbare vervolging, gesê. “Landdros S Maqubela in die handelsmisdaadhof in Bloemfontein het Gous tot ʼn verdere 30 maande tronkstraf gevonnis nadat hy Agnes Machice met R38 000 bedrieg het.”

Seseane is op 25 November 2010 deur Eugene Rabaji genader, wat ʼn verkoopsagent was vir ʼn huis waarin sy belang gestel het. Seseane en Rabaji is na Gous se kantoor, wat veronderstel was om bystand te lewer met die oordrag van die huis in Seseane se naam, nadat sy R100 000, die waarde van die huis, betaal het.

Seseane het R100 000 in Gous se bankrekening betaal en sy is aangesê om te wag vir die titelakte. Sy het dit egter nooit ontvang nie. Ná ʼn jaar nadat sy van bakboord na stuurboord gestuur is, het Seseane Gous genader en vir hom gesê sy wil haar geld terughê. Gous het gesê hy sal met die eienaar van die huis praat om haar geld terug te betaal. Toe Seseane self die eienaar nader, het sy gehoor dat Gous nooit enige geld vir die eienaar oorbetaal het nie, en Seseane het ontdek sy is die slagoffer van ʼn bedrogspul.

In die tweede saak, is Agnes Machice deur dieselfde eiendomsagent op 24 November 2012 genader nadat sy belang gestel het in ʼn huis ter waarde van R60 000. Machice het ʼn deposito van R38 000 in Gous se rekening inbetaal. Sy het Gous gekonfronteer toe die verkope nie plaasgevind het nie, maar Gous het vir haar gesê hy is nog besig met die uitsettingsbevel.

Machice het Gous gereeld gekontak, en sy het gehoor ʼn uitsettingsaansoek kan lank duur. Sy het Gous by die Prokureursorde aangemeld toe sy ontdek dat sy nie haar huis gaan kry of haar geld gaan terugkry nie.

Gous het sy eie saak behartig en het die hof versoek om hom nie tronkstraf op te lê nie, en het aan die hof gesê hy sal maandeliks betalings aan die twee klaers maak totdat die uitstaande balans afbetaal is.

Staatsaanklaer advokaat Mvuseleni Ponye het die hof versoek om Gous tronkstraf op te lê, omdat hy as ʼn prokureur bewus was van sy gedrag en dat hy die vertroue van sy kliënte geskaad het. Ponye het gesê die beskuldigde toon ook nie enige berou nie.

Landdros Maqubela het gesê dit sal ʼn verkeerde boodskap aan die gemeenskap stuur indien hy Gous nie tronkstraf oplê nie, weens die erns van die oortredings.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swannie ·

Daar behoort `n webwerf te wees waar prokureurs wat skuldig bevind word aan enige ongerymdheid se name pertinent gemeld word.

Ek het `n prokureur aangekla by die Wetsgenootskap. Hy is skuldig bevind, `n boete opgelê, asook `n opgeskorte vonnis.

Aangesien dit nerens rugbaar gemaak word nie, gaan die prokureur voort asog niks gebeur het nie.

Ek het dit op “HelloPeter.com”geplaas, so enige persoon wat op internet navraag doen, sal dit sien, maar honderde ander persone sal nie daarvan weet nie.

Die saak word gratis deur die Wetsgenootskap ondersoek, maar alle reis en verblyfkostes moet self betaal word, wat in my geval `n aardige bedrag beloop het.

Hanna ·

n Ou wat die Wette ken en nog slim genoeg is om hom self te verdedig. . . . . . . en hy kom so Lig daarvan af?
En ons moet dink dis regverdig.
Nee wat, hy gaan dit weer doen want sy kollegas sal hom weer beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.