Voormalige regter vervolg vir seksuele aanranding

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aangedui hy gaan ’n voormalige waarnemende regter vervolg vir die beweerde seksuele aanranding van ’n vroue-advokaat.

Die klaer het AfriForum se privaatvervolgingseenheid, die balieraad, die Johannesburgse vereniging van advokate en die raad vir die regspraktyk (LPC) om hulp genader.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die eenheid reeds in Oktober in hierdie verband vertoë aan adv. Andrew Chauke, die Gautengse direkteur van openbare vervolging (DOV), gerig omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die regter gedoen is nie.

Daar is klaarblyklik ook min of geen ondersteuning van die professionele liggame – wat die klaer genader het – ontvang nie.

Die voormalige waarnemende regter het boonop nadat die klaer klagtes teen hom gelê het, ’n saak van crimen injuria teen haar gemaak. Die NVG het egter aangedui dat hy geen vervolging op grond van hierdie klag gaan instel nie.

Nel verwelkom die NVG se besluit om die voormalige waarnemende regter te vervolg omdat daar volgens die dossier genoegsame bewyse is om te vervolg.

“Ons het ’n groeiende neiging by die NVG geïdentifiseer om eerder te weier om ingewikkelde sake te vervolg, met die hoop dat die klagte sal verdwyn. Dit is betreurenswaardig dat ons weer eens die NVG eers moes uitdaag om die regering se beloftes – dat sake van geslagsgebaseerde geweld geprioritiseer sal word – na te kom,” meen Nel.

Die privaatvervolgingseenheid sal die saak monitor en voortgaan om die klaer by te staan.

Nel sê die klaer is baie dapper om deur te druk en hierdie soort misdadige gedrag teen vroue te beveg.

“Die advokaat het tydens konsultasie aan ons gesê dat vrouwees in Suid-Afrika ’n gevaarlike beroep geword het. Dit is waarom sy wil standpunt inneem en sodoende verseker dat ’n omgewing geskep word waarin vroue gemaklik sal voel om ’n loopbaan na te jaag, sonder om die slagoffers te word van ‘magtige’ en klaarblyklik onaantasbare mans.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

Moet maar eers sien hoe vêr dit gaan kom. Die voormalige regter kan dalk gestraf word maar die spreekwoord “‘n jakkals verander van hare maar nie streke nie” bly ongelukkig altyd waar.

JohanR ·

Daar is nou maar net “untouchables” in die land. Maak nie saak wat hulle aanvang, en hoe sleg dit is daar is maar net ‘n klein klap op die hand!

efjy ·

Moenie die “verkragter” met ‘n man (mens) assosieer nie. Diere verkrag of gebruik eie reg wanneer dit by die daad kom.

Jr ·

Dame as Afriforum betrokke is kan u virseker wees dat u sal wen. Gerrie Nel vir president

Lillian ·

Dis is ‘n “challenge” om ‘n vrou te wees in ‘n “man’s world” en daar is ongelukkig nog mans wat daarvan hou om vrouens te boelie, want hul dink steeds ons leef in die middeleeue en ‘n vrou se plek is by die huis, agter die kospotte. Ongelukkig moet jy ‘n dik vel ontwikkel en ‘n jou “man” kan as’t ware staan, anders sal jy swaar kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.