Tjaart van der Walt, voormalige rektor van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), is in die ouderdom van 85 oorlede.
Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit, het gesê die NWU het met leedwese kennis geneem van Van der Walt se afsterwe Vrydagaand.
Van der Walt was van 1977 tot 1987 rektor van die PU vir CHO en was ook later kanselier van die voormalige Universiteit van Bophuthatswana.
Jacobs het Van der Walt as ʼn uitsonderlike leier en ambassadeur beskryf. “Hy was lief vir mense en was toegewyd tot God. Hy was van 1962 tot 1969 predikant van die Gereformeerde Kerk Krugersdorp.”
Volgens Jacobs het Van der Walt tydens sy termyn as rektor van die PU vir CHO studentelewe as prioriteit geag. Hy het ʼn ondersoek ingestel na studentedienste, studentelewe en universiteitsport, en strukture versterk om dié aspekte meer funksioneel te maak.”
Die raad van die universiteit het destyds danksy Van der Walt se beplanning besluit om die Fakulteit Ingenieurswese te begin.
Van der Walt is in 1992 as ambassadeur in Bophuthatswana aangestel. Ná die aanvang van die demokratiese bestel in 1994 het die premier van Noordwes hom versoek om aan te bly as voltydse adviseur.
Van der Walt het in 1951 ʼn BA-graad voltooi, gevolg deur ʼn honneursgraad en ThB. Hy het ook ʼn honneursgraad in klassiekte tale verwerf. Van der Walt was ook ʼn buitengewone professor in Nuwe Testament-studies. Hy is in 2017 deur die NWU vereer met ʼn toekenning vir sy lewenslange bydrae.
“Ons harte gaan uit na sy weduwee, kinders en ander familie. Hy het in sy tyd visie gewys en daardie visie word vandag nog nagestreef in ons strategie om die NWU te transformeer en te posisioneer as ʼn eenheidsinstelling van voortreflike akademiese uitnemendheid met ʼn verbintenis tot maatskaplike geregtigheid. Sy visie sal altyd waardeer word,” het prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
N begaafde prediker en n man der manne
Voorwaar ‘n merkwaardige mens gewees. Net een foutjie: hy het in 1951 begin studeer, en in 1953 sy BA behaal.
Die Prof het n baie groot bydrae gemaak om die land op te bou. Ware held.
Hy was briljante skolier en het in matriek onderskeidings in al sy vakke gehad. Sy pa was die hoof van Helpmekaar Hoër Seunskool gedurende my hoërskool dae.
Daar word nie meer sulke manne gemaak nie.