Voormalige SAID-beamptes in hof

Lede van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) buite die Pretoria-landdroshof om die drie beskuldigdes te ondersteun. Foto: Brenda Masilela/ANA

Drie voormalige beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en oortreding van die Wet op die Onderskepping van Inligting en Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting (Rica).

Ivan Pillay‚ Johann van Loggerenberg en Andries Janse van Rensburg word daarvan beskuldig dat hulle in 2007 onwettig op die kantore van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gespioeneer het.

Die saak is tot 18 Junie uitgestel wanneer dit in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor sal word. Die drie beskuldigdes is op waarskuwing vrygelaat.

Staatsadvokaat Sello Maema het gesê die beskuldigdes mag nie met enige van die staat se getuies inmeng nie en moet die ondersoekbeampte in kennis stel indien hulle in die buiteland wil reis.

Lawrence Hodes, die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê sy kliënte is glad nie van voorneme om die gereg te probeer ontduik nie. “Die beskuldigdes het die hoogste respek vir hierdie hof, hulle sal nie die hof ontduik nie. Hulle glo hulle is heeltemal onskuldig op hierdie aanklagte. Nie een van hulle het enige vorige skuldigbevindings of hangende sake teen hulle nie en ek het die erns van hul vertoë aan die hof verduidelik,” het Hodes gesê.

Die landdros het die beskuldigdes aangesê om brig. Nyameka Xaba op skrif in kennis te stel indien hulle die land wil verlaat.

Die Valke ondersoek die voormalige hoë-risiko-ondersoekeenheid van die SAID, asook voormalige SAID-kommissaris Pravin Gordhan, omdat hulle glo deelgeneem het aan die onwettige onderskepping van inligting en spioenasie.

Daar is egter vrae rondom die ondersoek wat deur kritici bestempel is as ʼn politieke komplot teen Gordhan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJC ·

Hierdie saak wys duidelik dat daar nog geweldig baie Zuma lojaliste in alle vertakkings van die staatsdepartemente is. Dit gaan kopkrap kos van Cyril om weer eendag alles terug na normaal te kry en baie duidelik het hy nie op die oomblik die nodige mag om dit te doen nie.

Mrs H ·

Valse klagtes! Zuma-hulle is op hulle kniee van desperaatheid om hierdie ouens uit die pad te kry omdat hulle hopeloos te veel bewyse het en van al die Zuma-bende sondes bewus is. Daarom die skielikke fluksheid om Ivan en Johannes stil te kry. Daai ouens was en is goud werd vir n eerlikke demokratiese SA! Hoop regtig die Zuma-bende kom nie hierdie keer met dit weg nie, want hulle het nog altyd só van die bevoegde eerlikkes wat nie wou saam speel, ontslae geraak.

TLC ·

Regtig die storie raak nou holrug gery. Zuma sit agter die ding met al sy gupta brigade Shame is hy bang hy gaan alleen trok toe. Asof dit ooit gaan gebeur blablabla

Wolf ·

Gedorie, as die Valke maar so fluks was om die ander koruptes soos die Guptas ook so vinnig voor die hof te kry was ons oraait.

Mrs H ·

Valse klagtes! Zuma-hulle is op hulle kniee van desperaatheid om hierdie ouens uit die pad te kry omdat hulle hopeloos te veel bewyse het en van al die Zuma-bende sondes bewus is. Daarom die skielikke fluksheid om Ivan en Johannes stil te kry. Daai ouens was en is goud werd vir n eerlikke demokratiese SA! Hoop regtig die Zuma-bende kom nie hierdie keer met dit weg nie, want hulle het nog altyd só van die bevoegde eerlikkes wat nie wou saam speel, ontslae geraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.