Voormalige SANParke-werker, drie ander oor stropery gevonnis

‘n Voormalige werker van SANParke is onder die stropers. (Argieffoto ter illustrasie: Wikimedia)

ʼn Voormalige beampte van SANParke is een van vier mense wat die afgelope week in sake wat met renosterstropery verband hou, gevonnis is.

Phineas Dinda, ʼn voormalige korporaal in die wildbewaarderskorps, en sy medebeskuldigdes, Alfa Gwebana en Mosambieker Arlindo Manyike, is in Mei 2019 in Tshokwane in hegtenis geneem.

Hulle is Maandag in die streekhof op Skukuza skuldig bevind aan die onwettige betreding van ʼn nasionale park, sameswering om ʼn misdaad te pleeg, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en ʼn byl.

Manyike is ook skuldig bevind aan ʼn oortreding van die Wet op Immigrasie.

Al drie is tronkstraf van 16 jaar opgelê.

In ʼn afsonderlike saak is Nito Mathebula Vrydag in dieselfde hof tronkstraf van 13 jaar opgelê nadat hy onwettig in die Krugerwildtuin gejag het.

Mathebula is in Januarie 2019 ook in Tshokwane aangekeer, terwyl twee van sy makkers weggekom het. Hy is skuldig bevind op drie stropery-verwante aanklagte.

Gareth Coleman, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, het die vonnisse verwelkom.

“Ons wil die vervolgingsgesag, die polisie en ons hardwerkende en toegewyde wildbewaarders loof wat die verdagtes aangekeer en die geloofwaardige bewyse aan die hof voorgelê het wat tot die vonnisse gelei het,” sê Coleman.

“Ons hoop dit gaan ʼn boodskap aan ander stuur dat geregtigheid sal geskied.

“Dit is veral kommerwekkend dat een van ons eie werkers in hegtenis geneem en tronkstraf opgelê is. Ons is bewus van werkers se samewerking met stropers en doen ʼn beroep op alle werkers met inligting oor sulke sameswerings om na vore te kom.”

Coleman sê danksy die heropening van die Skukuza-hof is daar nou weer ʼn beduidende toename in skuldigbevindings, ʼn neiging wat na verwagting sal voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Dis gebeur wanneer jy wolf skaapwagter maak.

SjN

Inside job,

ES

Van wanneer af is dit onwetting om met ‘n byl betrap te word…?

Diline

Hulle stel mos oral mense aan sonder om hulle rekords na te gaan. Vertrou hulle te maklik

Thereza

se dit van die begin, hd op passers is deel van die probleem