Die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Duitsland en oudvoorsitter van die SAUK-raad, Sonwabo Eddie Funde, is oorlede. Die openbare uitsaaier het gesê Funde is Dinsdagoggend oorlede ná ʼn hartaanval.
Funde het tussen 2004 en 2008 op die SAUK-raad gedien. Hy het ook op uitvoerende vlak en nie-uitvoerende vlak gedien in verskeie publieke en privaat maatskappye.
“Hy was deur sy loopbaan heen goed geposisioneer om die nodige transformasie teweeg te bring. Sy omvattende bydrae tot die samelewing het ʼn positiewe impak gehad en is die toonbeeld van leierskap wat ons almal kan inspireer,” het Kaiser Kganyago, woordvoerder van die SAUK, gesê.
Die raad van die SAUK, bestuur en personeel betuig medelye met sy familie en vriende.