Voormalige tuislandleier sterf

Lucas Mangope, voormalige leier van die destydse tuisland Bophuthatswana. Foto: ANA

Lucas Mangope, voormalige leier van die destydse tuisland Bophuthatswana, is in die ouderdom van 94 dood.

Die nuus van Mangope se dood het laat Donderdagaand aan die lig gekom, hoewel dit nie onmiddellik duidelik was wanneer hy gesterf het nie.

Mangope was die stigter van die United Christian Democratic Party (UCDP) in 1997. Die UCDP het Vrydag gesê Mangope sal onthou word vir die infrastruktuurontwikkeling gedurende die tydperk wat hy aan die hoof van die voormalige tuisland gestaan het.

“Hy sal onthou word vir sy nalatenskap, vir die goed wat hy gedoen het. Gedurende sy heerskappy het mense nie vir dae sonder water gegaan nie, ten spyte van die beperkte hulpbronne wat hy gehad het in vergelyking met die huidige regering,” het Sipho Mfundisi, die partyleier, gesê.

“Dit is ʼn reuseverlies. Hy het ons baie geleer, hy was ʼn dienaar van die mense. Sy werk was tot voordeel van die mense, insluitend al die mense van die Suidelike Afrika-streek. Hy het standaarde gestel wat nie geëwenaar kan word nie.”

Mfundisi het gesê Mangope kon mense op ʼn persoonlike vlak raak en sou in hulle hartseer deel in tye van rou.

Mangope het Bophuthatswana van 1977 tot 1994 gelei, maar nie sonder omstredenheid nie.

In 1988 het Rocky Malebane-Metsing van die People’s Progressive Party ʼn staatsgreep gelei in ʼn poging om Mangope te onttroon, maar die Suid-Afrikaanse regering het weermagtroepe gestuur en die oorname stopgesit.

Mangope, ʼn voormalige hoërskoolonderwyser, is wyd gekritiseer dat hy ʼn handpop van die apartheid-regime was en is daarvan beskuldig dat hy polisiebrutaliteit gebruik het om betogings in die tuisland te onderdruk.

Gedurende die voor-demokrasie-onderhandelinge het Mangope daarop aangedring dat Bophuthatswana onafhanklik van Suid-Afrika moet bly. Hy is egter deur die weermag uit die kussings gelig kort voor die eerste demokratiese verkiesing.

Mangope was ná 1994 steeds aktief in die politiek, maar is uiteindelik geskors uit sy UCDP.

Mfudisi het gesê ondanks die manier waarop die party en Mangope se paaie geskei het, sal die UCDP hom altyd respekteer en hoë agting vir hom hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacques venter ·

Met die onderwys onrus in die 80er jare het baie ouers hulle kinders n Bophuthatsana gestuur vir opleiding. Hier het Mangope n goeie diens bewys

Daan ·

N goeie man met wysheid en insig Bophuthatswana was tydens sy beheer in n beter toestand as wat SA vandag onder anc beheer is.

Andreas Meyer ·

Waarskynlik die beste Swart politikus in Suidelik Afrika van sy era.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.