Voorsitter van Toyota SA sterf

Argieffoto van Johan van Zyl (Foto: DANIEL ROLAND / AFP)

Dr. Johan van Zyl, voorsitter van Toyota Suid-Afrika, is Vrydagaand oorlede.

Die motorvervaardiger het dié nuus Saterdag in ’n verklaring bevestig. Die presiese omstandighede van Van Zyl se dood is nie bekend gemaak nie.

Van Zyl, ’n voormalige uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika, het vroeër vanjaar afgetree nadat hy sedert 2015 as uitvoerende hoof van Toyota Motors Europa gedien het. Toyota se verkope in Europa het gedurende sy ampstermyn vir die eerste keer in tien jaar die een miljoen-merk in 2019 verbygesteek.

Van Zyl het sedert sy aftrede vroeër vanjaar steeds as voorsitter van Toyota Suid-Afrika gedien.

Van Zyl het in 1993 by Toyota aangesluit en is in 2002 as president en bedryfshoof aangestel. Hy is die daaropvolgende jaar as president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika aangestel.

Van Zyl is in 2009 as ʼn bestuurshoof by die Toyota Motor Corporation (TMC) aangestel, waarna hy in 2013 as uitvoerende hoof van die Afrika-streek aangestel is.

Die Dok – soos hy onder sy kollegas bekend gestaan het – sal luidens die verklaring nie net vir sy sake-sukses onthou word nie, maar ook vir sy vermoë om die naam te onthou van elke persoon met wie hy in aanraking gekom het, sy vermoë om ʼn grappie ten koste van homself te vertel het almal vinnig op hul gemak gestel, en sy verstommende algemene kennis.

“Ons het ’n geliefde en voortreflike leier verloor wat onthou sal word vir sy leierskap en sukses by Toyota Suid-Afrika en Toyota Motors Europa,” sê Andrew Kirby, huidige president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika.

“Hy was ook ’n wonderlike mens en almal van ons wat gelukkig genoeg was om nou saam met Johan te werk, sal hom altyd onthou as ’n besielende mentor wat ’n storie kon deel oor enige onderwerp en wat werklik vir mense omgegee het.

“Sy onvermoeide pogings vir ons onderneming, ons bedryf en ons land sal baie gemis word.”

Van Zyl word oorleef deur sy vrou, Santie, dogters, Nadia en Karla, skoonseuns, Dirk en Brent, en sy kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Wat ‘n verlies vir SA. Hy was ‘n leier en besigheidsman wat wêreld wyd respek afdwing het.

Harry George ·

Dr Johan van Zyl het vir my klas gegee in bemarkingsbestuur aan PU vir CHO as MBA vak by die Vanderbylparkse kampus. Briljante man. Het oa aan Sorbonne in Parys studeer. Groot verlies vir SA .

Gato ·

Voorwaar n groot verlies vir die land en vir sy familie. Ek kan nooit verstaan hoekom mense wat die vermoë het om gemaklik te kan aftree en tyd saam met familie en geliefdes kan spandeer werk totdat hulle letterlik in die tuig heengaan nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.