Voorste-liniewerkers vir Braaidag bederf

V.l.n.r. Dr. Michael Mol, Leah (sangeres), Dean Smith (akteur) en Mynhardt Joubert (sjef) (Foto: Gerald Peterson)

Radio Tygerberg 104FM, het Donderdag, in samewerking met SPAR Wes-Kaap, 600 voorste-liniewerkers met boereworsrolle bederf.

“Ons is dankbaar vir die afplatting van die derde golf van die Covid-19-pandemie in die Wes-Kaap,” sê Rikus van Rooy, algemene bestuurder van Radio Tygerberg 104FM. “Juis in die lig hiervan wil ons voorste-liniewerkers in ons omgewing bedank vir hulle harde werk om na die gemeenskap om te sien.”

Radio Tygerberg, wat ook hierdie maand hul 28ste verjaarsdag vier, het besluit om ʼn verjaarsdagbraai (met ʼn verskil) te reël. Vyf hospitale se voorste linie-werkers is bederf met boereworsrolle en koeldrank.

Elsabé Van Zyl, bemarkingsbestuurder van SPAR Wes-Kaap, stem saam en sê dat hulle bevoorreg voel om iets te kan teruggee vir hierdie groep mense wat self al baie kollegas en familielede moes verloor weens die pandemie.

Die vure het reeds van vroegdag in die parkeerarea buite die gewilde gemeenskapradiostasie in Parow begin gebrand terwyl Dean Smith, bekende akteur van die sepie Suidooster ’n draai kom maak het. Die Afrikaanse sangeres en aktrise, Leah, was ook deel van die dag se verrigtinge en sjef Mynhardt Joubert het sy deel agter die braai gedoen.

Dr. Michael Mol, wat ook die spesiale geleentheid bygewoon het, sê dat elke klein gebaar van dankbaarheid ʼn reuseverskil in voorste-liniewerkers se gemoedstoestand maak.

Volgens Benescke Janse van Rensburg, omroeper van die middagprogram, Kortpad, is hierdie veldtog ’n manier om luisteraars te kry om ’n slag stil te staan en te fokus op dit wat voorste-liniewerkers vir ons beteken. “’n Mens aanvaar maklik hulle diens as vanselfsprekend. Ons wil mense herinner om dankie te sê vir hierdie groep mense wat hulle lewens waag om ons veilig en gesond te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Wat ‘n wonderlike gebaar, Radio Tygerberg!! Dat ‘n Christelike Radiostasie dit doen spreek boekdele. Aan die deelnemers, dankie vir die tyd wat julle opgeoffer het. Ons eer ons eerste linie gesondheidswerkers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.