Voorstel oor wittes by NWU blitsig gewysig

Hoofgebou-potchefstroomkampus

Die hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit. (Foto: Maryke Laas/NWU)

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het voorgestelde wysigings aan sy beleid oor werwing en keuring aangepas nadat skerp kritiek uitgespreek is omdat wit mans en wit vroue – en buitelandse burgers sonder permanente verblyfreg – in die dokument oënskynlik oor presies dieselfde kam geskeer word.

Die formulering het gelui: Appointment of a non-designated candidate (Foreign Nationals who do not have a permanent residence status or white males and white females) must be approved as follows”, waarna die bepalings vir goedkeuring uitgestippel word.

Die aanvanklike formulering het skerp kritiek ontlok, maar na verneem word, het dr. Bismark Tyobeka, nuwe visekanselier van die universiteit, kommer daaroor ter harte geneem.

Nadat besware oor die voorgestelde wysigings aan die beleid onder sy aandag gebring is, het Tyobeka glo self opdrag gegee dat dit weer gewysig word sodat wit mans en vroue nie in dieselfde paragraaf as buitelanders geplaas word nie.

Wit mans, vroue en buitelanders vorm nie deel van die “aangewese” groep werkers nie; dié groep sluit volgens die universiteit se beleid oor billike indiensneming “swart mense, vroue en mense met gestremdhede” in.

Louis Jacobs, woordvoerder van NWU, sê die wysiging van enige beleid, of die skep van nuwe beleid by die universiteit, behels ʼn omvattende konsultasieproses met verskeie beheerstrukture. Eers nadat die insette van alle strukture ontvang is, word dit as ʼn konsepdokument aan die NWU-raad voorgelê. Wanneer die raad tevrede is, word dit vir inwerkingstelling goedgekeur.

Die doel van die proses is om uitgebreide betrokkenheid te verseker en alle insette word baie ernstig oorweeg, sê Jacobs.

Volgens die universiteit is daar reeds ʼn bygewerkte weergawe van die konsepdokument, maar die NWU kan dit nie in hierdie stadium beskikbaar stel nie, omdat die toepaslike proses nog voortduur.

Jacobs sê nadat kommentaar daaroor ontvang is, is verskeie wysigings aangebring. Dit sluit in die verwydering van die bepaling wat lui “buitelandse burgers wat nie permanente verblyfstatus het nie, of wit mans en wit vroue”.

Die universiteit se plan oor billike indiensneming, asook wetgewing, reguleer die aanstelling van nie-aangewese kandidate, sê Jacobs. Dit word gedoen om te verseker dat die NWU vordering maak om sy billike indiensnemingsplan te verwesenlik, terwyl dit ook deur die departement van arbeid en indiensneming gemonitor word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die universiteit moet fokus op akademiese meriete en indien ander maatstawwe ingebring word, soos rasseteikens, word die akademiese projek benadeel.

“Dit is skreiend. Die feit dat hulle dit net oorweeg om wit mense op hierdie manier gelyk te stel aan buitelanders, is skrikwekkend,” sê Buys.

Volgens hom is dit onregverdig dat mense wat hul lewe lank in Suid-Afrika woon en wie se voorgeslagte van hier afkomstig is, in beleid op dieselfde vlak as buitelanders geplaas word.

“Dit laat waarskuwingsklokkies lui oor in watter rigting die universiteit op pad is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Só het dit by Stellenbosch, Pretoria en Oranje Vrystaat begin. Net ‘n kwessies van tyd.

VaalDonkie ·

Stellenbosch probeer hard om meer liberaal as Ikeys te wees

Manie ·

Daar is nie ‘n beter voorbeeld van diskriminasie as die nie.

VaalDonkie ·

Lyk my ons kinders swot in die vervolg almal maar by Akademia.

thejudge ·

Dit geld vir voornemende WERKERS by die universiteit ( sooa bv skoonmakers, kombuispersonelel, ens), nie STUDENTE nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos reeds gesê, net ‘n kwessie van tyd…

VaalDonkie ·

Het jy al Ikey’s se rasse-toelatingsbeleid vir medies gesien?

Charlie Brown ·

Ons blanke kinders moet dus maar by Akademia studeer of oorsee …. hierdie kwessie gaan nog lank nie le nie. Stem saam met Flip, skreiende skande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.